Archive for March 17, 2008

So leeg

deur Roon Lewald

So leeg, die wye blou,
dat elke roering aandag trek.
‘n Stippeltjie draai swart daarbo:
‘n aasvoël – of ‘n vlokkie veldvuur-as?

March 17, 2008 at 6:40 am Leave a comment

Besies en beeste

deur Roon Lewald

Daar’s ‘n land van middaghitte
waar besete besies anéén skril:
Onsishierhierhier-
waar-is-jul-jul-jul-
waarom-so-stil-stil-stil?
Iewers woerrr
‘n wolkie vlieë in die gras
waar ‘n bees gemaklik roer.
Oor die tafereel
verf hy met sy stertkwas –
rooibruin teen gebleikte geel -
G-a-a-p.
Bly stil.
Ons slaap.


March 17, 2008 at 6:34 am Leave a comment

Die Hoofgetooi

deur Roon Lewald

(i) Kindbruid


Daar’s ‘n ongewone gas vandag
by Aia Ellen in die agterplaas.
Sy’s baie jonk en sku hier
in die stad:
‘n niggie uit die Zoeloe-hartland
in die duisend heuwels.
Ellen sê sy’s pas getroud:
We-Lollozaan, my wit-seuntjie,
sodra ‘n meisie trou by ons,
kry sy ‘n vrou se erenaam.
Jy moet haar ‘Ntombi‘ noem.
Anders dink sy: ‘waar kom
hierdie onbeskofte mens
vandaan?”

Die Zoeloe-bruid se eie hoflikheid
is pragtig – -
uit dieselfde oude doos
as daardie wiegende, opregte gang
wat sy vroeg moes leer
om vragte op haar hoof te dra.

Tussen lenderok en sierringe
glans haar lyfie sag en bruin.
Kleurig voor haar keelkuit
hang ‘n kralelappie
met ‘n luimige boodskappie
vir ingewyde stamgenote.
Waardig en gewigtig rus
haar matronaatsbewys
oor haar kinderlike,
oop gelaat:

‘n rooiklei-hoofstuk,
glad en vas veranker
in haar korrelhare,
vanwaar dit op- en sywaarts
uitdy tot ‘n afgestompte toring.

(ii) Keiserin

Baie jare later het ek weer
‘n soortgelyke hoofgetooi gesien –
in Berlyn se Oud-Egiptiese Museum,
op die beeld van Nofretete,
sy wat hulle nog vandag
Die Skone noem;
sy wat eens so magtig in Egipte was,
en tog weer stof geword het
van sy stof, so baie eeue heen.
Stof is ook die ambagslaaf
wie se skaars gedeerde werk
ons vandag nog so aangryp
dat wurmverteerde vlees
weer bloes en asem
in die grasie van haar fiere hals,
sy welgeskape skedellas
en die edele gesig daarop.

Uit haar kalm gelaat –
lang hals vorentoe gestrek,
smal kop ‘n bietjie t’rug –
spreek die keiserin se absolute mag
en haar volle wete dat
g’n ander houding
ewe mooi sou pas by
daardie elegante hoofgetooi.

Klein Ntombi, waarvandaan het jy
daardie keiserin se kroon gehaal?
Dis tog ‘n stuk of twintig eeue
sedertdien jou voorgeslagte
van doerbó in die Nyl se wêreld
hierheen uitgeswerm het
oor die ganse kontinent !
Leef en rank dan oerou sade uit Egipte
altyd nog in julle mites en gebruike?

Of was dit bloot die langbeen-vlooi van toeval
wat met so ‘n wilde sprong
oot tyd en ruim
dieselfde hoofsierraad verpas het
aan ‘n Nylse heerserin
en ‘n skuwe Zoeloebruidjie?

Ewewel,
want onder daardie hoofgetooi
was albei vrouens vir my ewe mooi.


March 17, 2008 at 6:28 am Leave a comment


Haai!

  • 166,065

Dorpsbewoners

Argiewe

Onlangse Lesers

View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile

Kalendar

March 2008
S M T W T F S
« Feb   Apr »
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

del.icio.us


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.