Afrikaners: Voed die nuwe nasie die ou etnos?

May 19, 2007 at 3:40 am 4 comments

Jan van der Merwe , Doktorale student in antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat , oor Afrikaners in ’n post-apartheid Suid-Afrika:

Lees die oorspronlike opsetel hierso.  Listen to Eban van Renen’s podcast reading of this essay here.

Impak op Afrikaners se Kultuurbeskouing

Doktorale student in antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat oor Afrikaners in ’n post-apartheid Suid-Afrika

“Een van die realiteite waarmee Afrikaners voortdurend gekonfronteer word en wat telkens in ’n onlangse antropologiese studie aan die Universiteit van die Vrystaat na vore getree het, is die feit dat Afrikaners ’n kulturele minderheid in Suid-Afrika is. Hierdie realiteit, tesaam met die ANC-regering se eksplisiete proses van nasiebou, het ’n regstreekse impak op Afrikaners se kultuurbeskouing.

 

 

 

Ontwikkeling van Kultuur

Kultuur is dinamies. Volgens prof. Mönnig ontwikkel kultuur uit ’n lang historiese proses en maak dit altyd voorsiening vir die oordrag daarvan van geslag tot geslag. Dit beteken dat ’n kultuurgemeenskap altyd gesien moet word teen die historiese proses van sy ontwikkeling en dat ’n historiese proses van ontwikkeling meebring dat kultuurgemeenskap en kultuur in die hede, soos in die verlede, altyd ontwikkel en aan’t verander bly. Die ontwikkeling van ’n groep se kultuur vind plaas as ’n proses van aanpassing by sy omgewing, wat insluit sy natuurlike omgewing en sy menslike omgewing.


Minderheidsgroepe en Aanpassings

Afrikaners was getalsgewys nog altyd die minderheid in hulle lokaliteit (Suid-Afrika). In die apartheidsjare was Afrikaners die dominante rolspelers in Suid-Afrika en het hulle rigiede wetgewing daargestel wat streng voorskriftelik was teenoor die andere volkere wat saam met hulle in Suid-Afrika gewoon het. Hierdie wetgewing was in vele opsigte diskriminerend en vernederend. In die post-apartheid Suid-Afrika het Afrikaners hul regeringsdominansie verloor, en is hulle status feitlik oornag verlaag tot dié van ’n minderheidsgroep binne sy lokaliteit. Afrikaners moes dus noodwendig in ’n post-apartheid Suid-Afrika baie vinnig sekere aanpassings maak. Afrikaners wat nou in ’n post-apartheid Suid-Afrika ’n volwaardige minderheidstatus het, word verder ook gekonfronteer met nasiebou en akkulturasie.

 

Patriotisme en Nasionale Lojaliteit

Nasiebou, soos dit tans deur die ANC-regering geformuleer en in werking gestel word, beteken in die praktyk vir Afrikaners gedwonge akkulturasie. Prof. Albert Venter meld dat bykans alle regerings, veral dié in heterogene samelewings in ontwikkelende lande, groot waarde heg aan nasionale eenheid en lojaliteit. Hulle beskou die nasie nie as die blote somtotaal van die burgers nie, maar as ’n groep mense saamgebind deur ’n gedeelde patriotisme. In ontwikkelende state word geglo dat so ’n nasionale eenheid noodsaaklik is vir sosio-ekonomiese vooruitgang, iets wat ’n nasionale poging verg. Sodanige sentimente word voorts beskou as ’n teenvoeter vir verdelende groepslojaliteite wat die politieke stabiliteit en selfs territoriale integriteit van die staat kan bedreig. Waar patriotisme ontbreek of gebrekkig is, wend die betrokke regeerders hulle tot die skep van ’n nasionale lojaliteit deur allerlei inisiatiewe van owerheidskant. Hierdie soort oorwegings geld tans by Suid-Afrika se nasiebouers.

 Uitwissing van die Erfenis van Apartheid

Professore Albert Venter en Deon Geldenhuys wys daarop dat daar in die geval van Afrikaners ’n bykomende historiese faktor is. Die ANC is onwrikbaar verbind tot die uitwissing van die erfenis van apartheid. Die landsvlag het verander, die volkslied het verander, standbeelde is verwyder, plekname is verander, die nasionale sportembleem het verander, die samestelling van sportspanne het verander, regstellende aksie is van stapel gestuur alles volgens die ANC ter wille van nasiebou.

 “Vir die nasie om te leef, moet die stam sterf”

 Die ANC se beskouings oor nasieskap het reeds tydens sy ballingskap sterk Jakobynse elemente bevat. So het Oliver Tambo by geleentheid verklaar dat die ANC “eis om die vorm van ons nasieskap te bepaal”. Dit beteken, het doktor Pallo Jordan in 1989 verduidelik, “die reg om te bepaal wie die nasie is”. Albie Sachs, ’n ander leiersfiguur in die ANC (en tans regter in die Grondwethof), is die skepper van ’n bekende slagspreuk met ’n sterk Jakobynse inslag: “Vir die nasie om te leef, moet die stam sterf”. Só beskou, kom nasiebou op ’n vorm van volksmoord neer, en dit lyk nie asof Afrikaners intern opgewasse is om hierdie aanslae van nasiebou te oorleef nie.

Nasiebou en Akkulturasie

Nasiebou en transformasie is en bly vir Afrikaners ’n traumatiese proses. Hulle ervaar baie elemente van nasiebou as omgekeerde rassisme en blatante diskriminasie. Die feit dat die ANC-regering voortdeurend rasetikettering in sy wetgewing inbou, veroorsaak dat Afrikaners ’n renons ontwikkel jeens nasiebou, want die rasetikettering word primêr gedoen om witmense in Suid-Afrika te benadeel, ongeag die edele woorde en motiewe wat die Suid-Afrikaanse Grondwet daarstel. Vir Afrikaners hou nasiebou definitiewe elemente van akkulturasie in.

 Akkulturasie, as ’n proses van kultuurverandering, is ’n langdurige proses wat ’n langdurige onewewigtigheid in die etniese korpus daarstel. So ’n langsame proses van verandering bring steurnis in die geordende en georganiseerde korpus van ’n kultuurgemeenskap mee en dit lei gewoonlik tot spanninge tussen die lede van so ’n etnos (Haviland 1999). Die geykte en welbekende weë raak verander en die individue binne ’n etnos, wat nou met mekaar verbind was, begin mekaar “verloor” en word vreemd teenoor mekaar (Radcliff-Brown 1952). Die lewe verloor sy spontaneïteit. Daar tree ook ’n tweeslagtigheid in die lewenspatroon in wat die gladde funksionering van die daaglikse lewe in geykte kanale met sy vaste sisteem van verhoudinge en gedragswyses versteur en uit verband ruk. Daar kom spanning tussen die individue van ’n volk. Hulle word afkerig van mekaar en dit lei selfs tot botsings. Mense wat deur sterk sentimentele bande ook familiebande verbind was, kan binne volksverband vyandig teenoor mekaar raak (Walter 1952).

 Dit alles lei, volgens Coertze (1968), tot versteuring en verslapping van die sosiale binding wat nodig is vir gesonde maatskaplike samesyn. Hy noem dat daar in sulke omstandighede selfs ’n gevoel van vyandigheid kan intree teenoor die draers van die vreemde kultuur wat met hul vreemde gedrag en denke verantwoordelik gehou word vir die spanninge en botsings wat in eie geledere ontstaan.

 Kultuurgemeenskap, Konflik and Disorganisasie

Algaande tree daar ’n toestand van disharmonie en tweestryd tussen die lede van so ’n gemeenskap in, en daar kan selfs ’n toestand van disharmonie wees tussen die oornemers en die groep van wie die vreemde kultuur oorgeneem word. Dit kan daartoe lei dat so ’n kultuurgemeenskap in ’n toestand van konflik in disorganisasie en onderlinge stryd verval. Dìt is volgens Coertze (1968) en Radcliff-Brown (1952) wat normaalweg tydens ’n proses van akkulturasie plaasvind, die mens synde wat hy is. Coertze (1968) noem dat die nadeligste uitwerking egter kan voortvloei uit die feit dat ’n gesonde proses van enkulturasie by die opgroeiende geslag versteur word. Dit gebeur veral wanneer die proses van kultuuroordrag en -oorname te vinnig plaasvind. Alleen die uiterlike lewensvorme word oorgeneem sonder dat die daarby passende innerlike waardes en norme as lewensrigsnoere oorgeneem en verinnerlik kan word. Die jong geslag groei op met ’n nuwe kultuurpatroon sonder dat hulle ouers by hulle die nodige innerlike waarde kan inskerp. Dikwels staan hulle ook afkerig teenoor die leringe van die ouer geslag, wat hulle as onvanpas beskou. Die innerlike adel wat gepas het onder die vroeëre omstandighede en nog deel uitmaak van die innerlike lewe van die ouer geslag, ontbreek by die nuwe geslag en hulle het niks in die plek daarvan gekry nie. Die karaktervorming wat nodig is vir maatskaplike balans ontbreek. Die ergste is dat die volgende geslag nog meer ontredder gelaat word, want hulle ontredderde ouers kan aan hulle nog minder leiding gee (Coertze 1968).

 Die groot versteurende faktor is volgens Bidney (1953) egter ’n te snelle verandering, omdat oordrag van innerlike kultuurwaardes baie stadig geskied. Dit moet langs die moeisame weg van enkulturasie plaasvind – en dit kan alleen oor geslagte heen bewerkstellig word sonder om ernstige menslike en maatskaplike ontbinding te veroorsaak. ’n Sisteem van waardes en norme kan vir ’n persoon geleer word. Dan is dit egter bloot ’n vorm van kennis wat in die geheue bly vassteek of nie bly vasseek nie. Werklike verinnerliking van nuwe kultuurwaardes kan, sover dit die normale mens betref, alleen langs die weg van inskerping op die plastiese gemoed van ’n opgroeiende kind en die jeug plaasvind, aldus Coertze (1968).

 Snelle kultuurverandering wat soos in die geval van die post-apartheid Suid-Afrika met “gedwonge akkulturasie (nasiebou) gepaard gaan, bring maatskaplike chaos tot stand, omdat die kulturele struktuur van ’n volk (soos Afrikaners) wat maatskaplike kohesie bewerkstellig en bestendigheid meebring, kapot geslaan word.

 Prof. Piet Erasmus van die Universiteit van die Vrystaat redeneer dat daar antropologies aanvaar is dat, wanneer mense gekonfronteer word met sosiaal-kulturele transformasie en oorgange waaroor hulle geen beheer het nie, daar dikwels ’n teruggryp na gebruike, opvattings en beskouings van die verlede is, omdat dit ’n (gewaande) gevoel van sekuriterit bied. Die feit dat Afrikaners tans in ’n groot mate in so ’n situasie verkeer, hulle magsposisie prysgegee het en voel dat hulle taal, identiteit en kultuur bedreig word, vorm deel van die rasionaal waarom Afrikanerstrewes by sommiges in ekstremisme uiting vind. Uit ’n antropologiese studie wat by die Universiteit van die Vrystaat gedoen is oor Afrikaners in ’n post-apartheid Suid-Afrika blyk dit dat Afrikaners tans besig is om die sogenaamde versoeningsproses van die post-apartheid Suid-Afrika te deurleef.

 Afrikaner Rolmodella

Namate dit deur ’n nuwe soort intellektuele leierskap geformuleer kan word, sal daar na alle waarskynlikheid ’n nuwe etniese missie ontstaan. Dit wil voorkom of die krag van die onderliggende groepsgevoel binne Afrikanergeledere daarvoor sal sorg dat daar ’n sterk en weerbare nuwe identiteit gevorm sal word. Aan die hand van die gemelde navorsing kan verwag word dat Afrikaners wat na die buiteland uitgewyk het, ná ’n tyd ’n baie sterk bron van rolmodelle vir ander Afrikaners sal wees. Diegene wat terugkeer, kom gewoonlik terug met ’n nuwe ervaringsveld waar hulle van hul skuldgevoelens as “apartheidseuwels” ontslae geraak het en ook in die proses hul selfvertroue en selfgeldendheid ontdek het. Diegene wat nie terugkeer nie, aborteer nie noodwendig hul Afrikanerskap bloot omdat hulle nou in Sidney of Londen woon nie. Dit blyk volgens die studie van Prof. Elirea Bornman (2005) veel eerder dat dit juis hierdie emigrante is wat hul Afrikaner-identiteit in hul nuutgevonde tuistes bewaar en koester. Hierdie emigrante gaan hoogs waarskynlik soos die Indiërs in Natal of die Jode in New York word.

Boetedoening en Opofferings

 Ek wil dus die voorspelling maak dat Afrikaner-etnisiteit, ondanks die “totale aanslag” van nasiebou en transformasie, oor die volgende twee dekades baie sterk na vore sal tree. Die ironie is dat dit juis die proses van nasiebou en transformasie is wat opnuut momentum aan Afrikaners gee om hulle kultuurinhoud en -waardes as ’n kleinood op te pas en te beskerm. Die feit dat die regering voortdurend in nuwe wetgewing bly fokus op Afrikaners se eksterne identiteitselemente (soos byvoorbeeld velkleur) laat Afrikaners geen ander keuse as om ’n samehorigheidsgevoel te ontwikkel nie. Die regering bly wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder uitsonder as diegene wat nie werklik “Africans” kan wees nie, of wat nie soos die res van die reënboognasie is nie (Slabbert 2006). Die res van die Suid-Afrikaanse volkere word onvoorwaardelik as deel van die reënboognasie gereken. Dit is slegs witmense, en veral Afrikaners, wat eers boetedoening en opofferings moet maak alvorens hulle as deel van die reënboognasie gereken kan word. Die ANC-regering bereik tans met hierdie benadering die teendeel met sy nasiebou-inisiatiewe. Hulle vervreem die witmense van die res van die Suid-Afrikaanse reënboognasie in plaas van om hulle te versoen”.

Jan van der Merwe

Bronne

 

Advertisements

Entry filed under: Afrikaans, Afrikanerskap, Apartheid, Human Rights, Identity, Language, Nationalism, Post-Apartheid, Race and Culture, South Africa, Ubuntu.

South Africa: A Lesson of Freedom A Response to Kenneth Leech’s concept of Theological Wholeness in The Eye of the Storm

4 Comments Add your own

  • 1. Callie  |  May 19, 2007 at 5:43 am

    Kyk maar wat gebeur wanneer die afrikaners ‘n petisie optrek oor ‘n sekere probleem, byv misdaad – in pleks daarvan dat Mbeki iets positief doen/sê, sal hy eerder die afrikaner uitwys as ‘n rassis en struikelblok in ‘n “transformasie-proses”. Nasiebou (haha) moet begin by die parlement, dink ek!

    Reply
  • 2. boerinballingskap  |  May 19, 2007 at 1:02 pm

    Nice new look!

    Baie goeie, gebalanseerde inskrywing. Jy vat dit raak!

    Reply
  • 3. Jo-Ann Schou  |  May 19, 2007 at 1:20 pm

    Baie goed! Skryf nou een oor kultuur “sop” in ‘n gemengde huwelik.

    Reply
  • 4. Blane  |  May 20, 2007 at 12:46 am

    BIB: Dankie vir die besoek. (Die oorspronklike tema van my blog was heelwat te verstikkend vir my.) Hierdie opstel — Afrikaners: Voed die nuwe nasie die ou etnos? — is geskryf deur Jan van de Merwe, doktorale student aan die Universiteit van die Vrystaat. Dis nie my geskrif nie. Ek stem saam: baie goeie gebalanseerde inskrywing; Jan vat dit raak.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Haai!

  • 243,583

Dorpsbewoners

Argiewe

Onlangse Lesers

View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile

Kalendar

May 2007
S M T W T F S
« Mar   Oct »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

del.icio.us


%d bloggers like this: