Europa, Europa

April 21, 2008 at 12:04 am 1 comment

deur Roon Lewald

As ek na 40 jare in Duitsland in Afrikaans dig of skryf, gaan dit meesal oor nostalgiese herinneringe aan my Suid-Afrikaanse geboorteland. Nou-die-dag het ek egter ou briewe aan Afrikaanse vriende oor my ervaringe in Europa herlees en weer besef hoe belangrik my tweede tuiste vir my geword het. Europa: watter unieke eensheid van gemeenskaplike waardes, nywerheid, wetenskap, kunsskatte en geskiedenis, maar watter onvergelykbare veelvoudigheid van tale en tradisies wat van land tot land, streek tot streek en selfs distrik tot distrik so verskillend is! Hierdie paar uittreksels uit my ou briewe bewys watter houvas hierdie bakermat van ons westerse kultuur op ‘n mens se siel kan kry….

Schiermonnikoog

…As jy plekke in Europa soek wat nog nie deur massatoerisme uitgetrap is nie, probeer tog maar die Wes-Vrieslandse eilande. Dis eintlik nie veel meer as ‘n lang halssnoer van groterige, gedurig verskuiwende sandbanke vlak voor die Nederlandse noordkus — al wat van die oorspronklike kuslyn oorgebly het nadat die gulsige Noordsee gedurende Middeleeuse stormgetye sommer oornag yslike stukke land met man en muis weggespoel het. Een van die mooistes is die groterige, nog taamlik onbedorwe Schiermonnikoog, waar ons onlangs ‘n heerlike week geniet het. Motors is meesal verbode en daar’s net een mooi klein dorpie op “Schier”. Sy baksteen-strate en miniatuur rietdak-huisies dateer gedeeltelik terug na omtrent 1700, toe die oorspronklike eilanddorp aan die weskus heeltemal weggespoel en later op hoër grond herbou is. Jy kan ‘n skoon, ordentlike dubbelkamertjie vir omtrent US$20 van privaatmense huur, maar daar’s ook goedkooop woonstelle en 2-3 gawe, redelik betaalbare hotels. Ons het fietse vir net $15 per week gehuur om die eiland se verrassend veelsydige miniatuur-landskappe oop kronkelende fietspaadjies te ontdek – bosse, groen boerderye, sandduin-vegetasie en wye, spierwit strande langs die noordelike en westerlike kuste.
Die onvergeetlikste belewenis was ‘n uittog op die Waddenmeer – groot lappe van die omliggende seebodem wat begaanbaar word wanneer die laag-gety terugtrek. Die “Wad” is half land, half see – ‘n vogtige sprokieswêreld waar die kleinste bewoners kruip, krioel, gaatjies boor en borrels blaas uit die golfgekamde sand, en waar seeleeus vlak langs jou in die water bolmakiese slaan of opduik om menslike besoekers met groot, ronde meermin-oë dop te hou. Waar ons omtrent een myl duskant van die eilandkus gestaan het kon jy die vaste land amper nie meer sien nie. Wit wolke in ‘n potblou hemel word weerspiëel in groot, stil lappe en gorrelende stroompies seewater, en jy weet dat jy binnekort moet omkeer voordat die see terugsluip om die plek waar jy staan onder ses voet water te laat verdwyn.
Die eilandbewoners is vriendelike, rustige mense. Heelwat van hulle praat nog ‘n oerou plaaslike dialek wat selfs mense uit ander dele van Vriesland nie maklik verstaan nie omdat baie woorde afstammig is van Wikingers, walvisvangers en ander seelui wat deur die eeue heen hier aangedoen het. Hierdie tradisies is nog so sterk dat een Schierse inwoner haar hele volwasse lewe daaraan bestee het om `n tweetalige Nederlands/Schiermonnikoogse woordeboek op te stel. “Schier” het egter net 800 inwoners, sodat die boek maar min kopers gevind het, afgesien van universiteitsbiblioteke wat met hierdie aardige geleerdheid spog…

Herfs langs die Ryn

…Gister het ek vir die eerste keer in baie weke my agterstewe uit my woonstel en op my fiets geboender en afgesit Ryn-toe. Nie juis vêr nie, maar vêr genoeg om by `n wynhuisie langs die rivier te sit, “tweede-ontbyt” te eet en kyk hoe diesel-diesel die groot riviervragters verby op hulle lang pad tussen die groot Noordseehawens van Rotterdam, Antwerp en Amsterdam via die Ryn/Main/Donau-kanaalstelsel tot by die Swartmeer-mond van die Donau in Romenië . Dié wat leeg met die stroom afgly gooi sommer sulke lang vere witwater agter hulle skroewe uit. Die volles wat laag sit soos hulle “opdraende” aansukkel dra almal groot wit snorre voor hulle boëe soos hulle met volle krag beur teen Vader Ryn.
Kyk tog net die bont vlaggies van baie lande! Dis ‘n werkende rivier hierdie, g’n speelplek nie. Kyk tog die hondjie wat op die voorstewe van daardie Switserse olieskip staan en blaf, die Tsjeggiese kapteinsvrou wat by die familiekajuit wasgoed ophang, die klein Daihatsu wat daardie Hollander op `n vragluik vasgemaak het vir die rondry by die volgende vasmaakplek. Daars so baie vragskepe, ‘n toeskouer voel soos my oorlede ouma in haar “kindse” jare as sy verbysterd na die verbygaande stadsmense kyk en vra: „En waarheen sou daardie vroutjie met die wolhaarkop so haastig aansukkel?“
En oorkant die Ryn onder ´n blou-blou herfshemel, die blouste soort wat jy heeljaar in hierdie geweste kry, is die Sewe Berge met hulle holtand-kasteelruines en die groen lower wat orals begin-begin verkleur. So mooi in die herfs, Duitsland…
Ek wou al huistoe fiets toe ek `n gedrom en `n gefluit van iewers agter die woonhuisies naby die rivier hoor, en kom af op ‘n bont spektakel – die jaarlikse byeenkoms van „skuttersvereniginge“ uit al die klein dorpies waaruit die Bonnse woonbuurt Bad Godesberg bestaan (Bonn is eintlik bloot ‘n los versameling van dosyne van oerou gemeentetjies, waarvan baie nog heelwat van hulle ou dorpskarakter besit. Baie daarvan het eers aan Bad Godesberg behoort, totdat die Godesbergers tot hulle blywende onthutsing in die 1970ers deur Bonn ingesluk is.).
Die skuttersvereniginge dateer terug tot die 18e-19e eeu en was oorspronklik `n soort vrywillige, bewapende militia, maar is sedertdien nie veel meer as `n tradisionele ekskuus vir die “local yokels” om hulle uniformpies aan te trek, op die jaarlikse teikenskiet-wedstryd `n nuwe skutterskoning en –koningin te kies, met `n geswenk van vlae en `n gedrom, gefluit en getingel op Sondae en feesdae verby te marsjeer, en dan baie bier en/of wyn te suip.
Die skutters is eintlik ‘n soort historiese grap, `n bejaarde karikatuur deur die lighartige Rynlanders van die militaristiese rommel waarmee die Pruisekoninge van weleer hierdie Rynlandse provinsie van oud-Pruise regeer het. Gister was skutters van al die Godesbergse gemeentetjies daar – Dottendorf se Mannebroederskap, die St. Hubertus-Jagters van Liessem, die St. Sebastianus-Skutters van Lannesdorf en hulle rivale van Pennenfeld, Schweinsheim, Mehlem ens. ens.
Dis ‘n koddige, vriendelike gedoente as hulle so deur die eng ou straatjies by die wuiwende, glimlaggende inwoners verbymarsjeer — netjiese jagtersgroen uniforme; voor elke troep sy eie “skutterskoning” met sy ou vroutjie uitgedos in haar Sondagrokkie langs hom; elke troep met sy orkessie. Die fluiteniers kry wel die hoë note nie heeltemal beet nie maar die dromspeler is altyd baie oortuig van sy saak met sy luide boem, boem, boem!)
Dis as hulle na die vergaderplek kom, waar die hoё kokkedore van die skuttersfederasie en die vooroord-burgemeester wag om gesalueer te word, dat jy duidelik sien aikona, dis geen Pruise hierdie nie. Want die “offisier” voor elke troep pluk wel sy blink swaard uit, bulder kliphard “Oё LINKS!” en laat sy swaard volgens reglement sak met die verbykom, maar al wat “oё-links” swenk of salueeer is die ou slap seksie seuns en dogters agter hom. Hulle kom so casually verbygeslenter soos ‘n troep rofies wat nou net die “Army” gejoin het. Nouja, ook dit is tradisie, dis per slot van sake die Rynland hier, en waar’s die wyn en bier? Vandag het ek my Sondag-olggend bestee aan ‘n computer-tekening van die skutters: sien benede!

Calvados en seekos

…Gisteraand terug na ‘n heerlike vakansietjie in die Bretagne. ‘n Ou vriend uit Kaapse dae wat nou in London woon het my uitgenooi om drie dae saam met hom en twee Engelse vriende in hulle gemeenskaplike vakansie-huisie in die Bretonse platteland iewers by Rennes sonder ons vroumense te ontspan. Vier ouens alleen in ‘n granietklip-plaashuisie, en een van hulle kan regtig goed kook! Hy was gedurig seekossies aan’t voorberei (Jakobsmossels, salmoen, oesters, inkvis ens.), en daar was genoeg drankvoorraad (witwyn, Calvados, goeie Ierse whisky) om dit alles te laat gly-gly maag-toe.

En moenie praat van mooi dinge om te sien nie. Die kus by Dinard of Saint Brieuc is wonderlik mooi – broos graniet van ongewoonlike kleure tussen grou en pienk, en lang, lang strande waar pelgrims uit die ganse Europa eeue lank Jakobsmossel-skulpe gesoek en op hulle hoedens vasgemaak het om te adverteer dat hulle te voet aanstruikel op die lang, lang pad na Santiago de Compostella. Afgesien van wêreldberoemdhede soos die kloosterkerk-eiland van Mont-St-Michel wemel die buurt van pragtige ou middeleeuse stadjies en dorpies van grantietklip. Daar’s baie Gotiese kerke en katedrale van die Bretonse tipe wat so vierkantig en vas staan met hulle dik granietmure en stomp, fort-agtige torings dat jy besef watter onruste en onluste die middeleeuse Kerk moes trotseer. Die plaaslike heiliges met hulle keltiese name moes seker woel om met die alomteenwoordige boosheid van die mens en die Bose homself klaar te kom. Die katedraal van St. Brieuc verplaas jou terug na daardie tye. Binne die fort-agtige klipmure word die donkerte vertoor deur die gloeiende rooi en blou strale wat deur die wonderlike Gotiese roosvenster indring.

Verlore tussen die weelderige grafmonumente van middeleeuse biskoppe wat daar begrawe lê het ek ‘n heeltemal ander soort Franse geskiednis raakgeloop: ‘n muurplaket ter ere van die “glorieuse dood” van ene Burger Jean Chrétien Philippe Leclair, “avocat de la mairie”, wat sy woede nie kon bedwing toe koninklike troepe die stad in marsjeer om die Rewolusie te probeer uitsnuif. “Vive le Roi!” bulder die soldate met die swaai van hulle skerp bajonette. “Vive la Revolution!” antwoord die helddadige Leclair voordat hulle hom neerskiet. Watter wonderlike Franse dood, hierdie “mort glorieuse” van “Citoyen Leclair”!

Die oor van die Ierse heilige

…Jy sou seker van die Saarland hou. In die ou dae was dit die armehuis van Duitsland en dit word deesdae alweer armer met die sluiting van sy bankrot steenkool- en staalnywerhede. Die inwonertal is taamlik laag en die ekonomiese infrastruktuur is relatief min onwikkel, sodat groot dele van die vreedsame landskap nog onbedorwe is. Die Franse invloed van oorkant die nabye grens is aanvoelbaar in die vriendelike, gemaklike geaardheid van die mense en die tipiese Saarlandse cuisine, wat heelwat herinner aan die lekker kookkuns van Alsace-Lorraine. Die wyn is ook uitstekend.

Om een of ander rede is my oë en ore deesdae ontvanklik vir godsdienstige padtekens. Net om die hoek van my woonplek het die ontdekking van ‘n obskure stukkie kerkgeskiedenis my verbly. Versteek in ‘n woudjie kom ek af op ‘n oerou pelgrimkerkie met dik, witgekalkte klipmure, bont versier met tuis-beskilderde houtplaatjies waarop vroom Katolieke tot vandagtoe die plaaslike beskermheilige bedank vir een of ander barmhartige wonderdaad: ‘n kind se genesing na ‘n klaarblyklik dodelike siekte, iemand se wonderbaarlike redding uit ‘n vliegtuigramp, ‘n voetganger wat amper maar nie stamper deur ‘n trein doodgetrap is ens. ens.
Plaaslike inwonders noem die kerkie “die Ohrannakapelle” – Ohranna se kapel. Langs die mooi versierde altaar binnekant staan ‘n bontgeverfde standbeeld van die heilige Oranna haarself: ‘n groot, vors vroumens met ‘n vlammende bos rooi hare, sterk genoeg om haar swaar kruis speel-speel oor een skouer te dra. Wie sou sy nou gewees het met sulke hare en so ‘n vreemde naam, vra ek myself. Begorrah, en was dit nie ‘n Ierse non wat eenduisend jare gelede haar kloster in haar groen, lankal gekerstende eiland verlaat het om die woord van God en haar eie goeie dade na ‘n spul Germaanse heidene hier in die wilde bosse van Suidwes-Duitsland te oorbring nie? “Ochranna” was haar doopnaam, maar hierso het hulle die mooi Ierse uitspraak (“Ogranna”) verbaster tot “Ohranna” (wat in Duits klink soos “Oor-Anna” oftewel Anna-met-die-oor). En waarlik, ‘n ander standbeeld toon haar met die attribuut waaraan ‘n goeie Katoliek elke gemartelde heilige kan herken – nie die martelaarswiel van Sint Katerina, nie die arme, uitgeplukte ogies wat Sint Barbara soos twee swart olywe op ‘n piering voor haar skoot hou nie, maar ‘n groot, uitgestrekte OOR! Is dit ‘n Ierse grap? Nee, ek sou graag wil glo dat haar vereenselwiging met hierdie koddige oor ‘n teken van haar destydse gemeente se dankbaarheid was vir die geduldige oor waarmee sy na hulle klagtes en sielewroeginge geluister het. By Sint Patrick, en wie sou nie graag ‘n goeie Ierse heilige se verstandige oor wil vind vir sy hedendaagse beproewinge nie!

Italië is fantastico!

…Ja, Italië is werklik fantastico, né! My geliefkoosde Italiaanse belewenis is die mooi someraand toe ek na my aankoms uit Duitsland met my lendelam ou VW Passat in die middel van die Roomse verkeerschaos vasgesit het. Hopeloos om van hier my Roomse vriend se woonstel te vind, dus gaan soek ek ‘n telefoon in ‘n baie classy-looking restaurant oorkant my parkeerplek. Die joint is leeg, behalwe vir die eienaar en sy hele personeel, almal besig om aan ‘n lang tafel ‘n heerlike aandete te smul voordat die nag se besigheid begin. Vuil en opgeslons staan ek daar en vra hulp, maar nog voor ek ‘n verstaanbare Italiaanse vraag kan saamvoeg uit stukkies van halfvergete Puccini-arias, spring die baas met ‘n juigkreet uit sy stoel op, klop my skouers uitbundig en druk ‘n yslike groot glas rooiwyn in my hand. ‘n BAIE goeie Montepulciano, as ek reg onthou. Hy wys my dadelik waar die foon is en, terwyl ek my vriend probeer beduie waar ek is, kom hy weer na my toe en druk woordeloos ‘n sigaar in my snuit. Nogal ‘n Romeo y Julieta, hoor. Hy moes in ‘n uitstekende bui gewees het, maar nogtans het sy vriendelike ontvangs van sommer so ‘n toeristegaaip soos ek my verstom. Na hierdie en andere belewenisse moet ek eerlikwaar sê dat geen ander nasie in die wêreld jou met soveel warmte en sjarme sal verwelkom dat dit elke druppeltjie norsheid in jou laat verdamp. Dis seker hoekom die Duitsers so baie in Italië kom boer – tuis is hulle baie keer so stug dat net die Italianers hulle werklik kan laat goedvoel!

Dis eienaardige mense…

…Onlangs terug van ‘n besoek na Helsinki om nuus vir my steenkooltydskrif in die Finse elektrisiteitsindustrie te soek, en nou is ek gereed om alles te glo wat hulle van die Finse nasie vertel. Jy hoef net een van daardie surrealisties snaakse flieke van Aki Kaurismaaki sien om te besef dis baie eienaardige mense daardie. Of lees C.S. Forester se roman oor sy seeheld Horatio Hornblower se awonture in die Oossee, daar waar sy bygelowige seelui protesteer dat die admiraal se Finse tolk met die kil groen oë gaan ongeluk bring – elke matroos weet tog die Finne is bose towenaars en Jonasse!

Of dit waar is of nie, feit bly dat hulle vol verrassinge is. Uiterlik is die Finne wat ek raakgeloop het uiters beskeie, beleefde mense, maar die geheime, gekonsentreerde willenskrag en intelligensie wat jy soms agter daardie stil, beheersde uiterlike ontdek kan jou ‘n bietjie laat skrik. Dis die beheersdheid van mense wat geleer het om in die spanningsveld tussen die Russiese kolos en die oos-Baltiese uitlopers van die Wes-Europese beskawing te oorlewe; van ‘n klein volk wat man-alleen die Sowjetryk gedurende die Winteroorlog van 1939-40 op sy plek gesit het; en wat sedertdien deur geruislose diplomatie sy vryheid en vooruitgang verdien het as ‘n smal brug tussen twee opponerende wêrelde.

Helsinki self getuig van daardie aanpassingsvermoë, fantasie en verborge krag. Dis ‘n gemoedelike, agtermekaar plek met ‘n ongewone mengsel van argitektoniese style. Daar’s min wolkekrappers in hierdie hoofstad. Die lae, ouderwetse wit geboue in die skilderagtige hawebuurt is ‘n oorblyfsel van tsaristiese Rusland, met heelwat aanhalinge uit die tyd toe Finland onder Sweedse gesag was. Elders staan jy verstom oor die uitbundigheid waarmee die Finne die oorspronklik Franse art-nouveau styl interpreteer het. Die beeldhouwerk op die fassade van die groot spoorwegstasie byvoorbeeld is ‘n wemelende orgie van magiese verbeeldingskrag: reuse, monsters, kobolde en ander fabelgestaltes wat jou herinner aan Arthur Rackham se sprokiesboek-illustrasies.

Vergeleke daarmee is die doodgewone, vierkantige kantoorblok oorkant die stasieplein ‘n vervelige kontras. Net die ultra-moderne telekom-gereedskap op die dak verraai dat dit die hoofkantoor is van Nokia. Tot in die 60er jare was dié high-tech besigheidsreus ‘n amper onbekende vervaardiger van eenvoudige rubber-, hout- en papierprodukte. Maar onder nuwe regie het Nokia in minder as twee dekades die internasionale sakewêreld geskok deur die strategiese geníe van sy blitsagtige ontwikkeling tot ‘n beheersende rol as ‘n globale telekomproduk-aanbieder. Elders vind jy ‘n strelender soort Finse genialiteit in die boukuns van moderne argitekte soos die beroemde Alvar Aalto, wat deur sy subtiele aanpassing van organiese vorme aan hulle omgewing sy geboue laat lyk asof hulle deel van die natuur is.

My vriendelike nuusbron Kauko Relander, ‘n vooraanstaande steenkoolinvoerder, is een van daardie beskeie Finne wat jou so kan verbaas. Hoe raak julle Finne ontslae van die energie wat julle so hoflik en terughoudend verberg, het ek gevra. Dis toe hy my vertel hoe hy en sy vriende die langste dag en kortste nag van die kort Finse somer vier. Met elke somer-sonstilstand vergader hierdie beskaafde sakemanne met hulle families langs een van die honderde blou mere diep in die digte woude van die binneland om heeldag vis te vang, swem, met die kinders te speel en tradisionele disse soos rendiervleis en groot rooi gekookte krewe te smul. Jy sou seker dink dis heeltemal normaal, né. Maar aand se kant staan die vroumense stilletjies op en verdwyn tente-toe met die kleinspan. Dan sit die mans alleen langs die meer, bewonder die maanlig op die water – en drink. En drink. En drink. Suiwer vodka of aquavit natuurlik. Dis blykbaar ‘n rituele “male-bonding” besigheid met sy eie vaste rëels, want hulle praat nie juis baie en hou nie op totdat hulle een-een omval om hulle roes in ‘n slagveld van lëe bottels uit te slaap. Môre-oormôre is hulle weer op kantoor , beskeie en beheersd soos altyd. Tot volgende jaar se somer-sonstilstand…

Advertisements

Entry filed under: Afrikaans, Afrikanerskap, Lewald, Race and Culture.

Samuel Begg Atomic Atman (‘L Homme Savage)

1 Comment Add your own

  • 1. rujeanne swanepoel  |  October 28, 2014 at 3:14 am

    Goeie naand,

    Ek rig hierdie skrywe in die hoop om weer kontak te kan maak met Roon……

    Rujeanne

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Haai!

  • 241,320

Dorpsbewoners

Argiewe

Onlangse Lesers

View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile

Kalendar

April 2008
S M T W T F S
« Mar   May »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
27282930  

del.icio.us


%d bloggers like this: