Die Nag van die Vlieënde Miere

May 21, 2008 at 8:17 am 1 comment

GeckosDeur ‘n onbekende skrywer

In English

“Ons het selfs tot aan die uur van ons dood die illusie dat ons onsself ken, wéét wat ons wíl…”

Inleiding

deur Roon Lewald

Hieronder verskyn die oorspronklike Afrikaanse manuskrip van die kortverhaal Die Nag van die Vlieënde Miere, waarvan my noodgewonge eienmagtige Engelse vertaling elders op hierdie blog verskyn. Ek wens dat die onbekende skrywer van hierdie pakkende, heel toevallig deur my tussen my oorlede suster Deanne Lewald se besittinge na haar dood gevonde storie daarvan te hore sal kom en sy eie kommentaar sal lewer daaroor. Intussen wens ek hom geluk met sy raak siening van intellektuele Afrikanerdom se sielewroeginge op die drumpel van rewolusionêre veranderinge in die ontstuimige 1980er jare. Hierdie laat publikasie daarvan, seker goed 20 jaar na die verhaal se ontstaan, is m.i. ‘n déja vu wat vandag nog – of miskien weer – groot aktualiteit besit. Sekerlik sou lesers graag meer wil weet oor die tyd en omstandighede van die verhaal se ontstaan, hoe die outeur vandag dink oor die werklikheid van die ou bedeling se destyds al onvermydelike einde, en hoe hy die huidige asook toekomstige rol en toestand van die Afrikaner en sy taal in (of buite) Suid-Afrika sien.

Die Nag van die Vlieënde Miere

Die son kom bloedig rooi op oor die see en die daggaverkopers is nog nie op hul poste nie as ons die stad uitry. Soos ons afdraai op die Kwamashu-pad is byna die enigste ander verkeer mankolieke Putco-busse en taxi-bussies, oorvol swart koppe. Die wittes, hoog op teen die Berea, lê nog in hul Saterdagoggendse vermoedheid suf en wakker word met Nescafé en “Gooie môre, Suid Afrika!” Altus steek vir ons sigarette op terwyl ons probeer uitpluis hóé ons vandag die Afrikaanse tutoriale vir die swart matrikulante gaan aanpak. Ons moet Ernst van Heerden se Die hardloper en die “lydende-en-bedrywende” vorme doen. (Ek dink stilweg aan die ironie van “lydend” en “bedrywend” in dié land.)

“Presies wat sou jy sê is die simboliek van die hardloper?” vra Altus, terwyl ek afdraai op die pad Inanda toe, met die armsalige vis- en vrugte-stalletjies aan die linkerkant. Skewe, gehawende sambrele moet die illusie van koelte skep bo die windskeef houtkonstruksies wat as tafels vir die verlepte ware dien. ’n Putco-bus druk my byna die walle af. Ek moet skielik skerp rem. Altus gryp vervaard na die aktetas op sy skoot, en trek sy gepunte lakleer skoene bymekaar. Maar ons is voorlopig veilig. “Hy versimboliseer waarsynlik die lewe teenoor die dood: die ‘man wat altyd agter is’ met die asem ‘in sy nek’ is tog duidelik die bedreiging van die dood, van verganklikheid”, sê ek, om sy senuweeagtige aandag van die pad af te trek, terwyl ek probeer om deur die onvoorspelbare verkeer te vleg. Die “Boere” is alweer laat, soos altyd – dis moelik om betyds op te staan op ‘n Saterdagmôre.

Anderkant die robot gaan ons die eerste swart woongebiede in: orals stap mense met waterhouers op pad ná en van die waterverkopers. Sommige het kruiwaens, vrouens balanseer die groot gevulde plastiek-kanne vernuftig op hul koppe, terwyl hulle die agterstewe ver uitsteek om te kompenseer. Die modderhutte langs die pad lyk gehawend na die groot vloede, en stukke lap en klere hang aan elke heining om uit te droog in die son. Lang toue staan by die busstop en wag. By die winkel begin die eerste vroue en kinders in hul wit klere op die stoep saampak vir die weeklikse duistere byeenkoms (met Jesus én sangoma?). Die “hairdresser” in sy sinkpondok is ook al oop vir besigheid.

“Het jy geweet die mense in Kwamashu gebruik ‘n derde van die elektrisiteit van die Southern Life-gebou?”, vra Altus terwyl ons verby ‘n man met twee afkop-hoenders ry. Moses Mfeketo en Magnificence Tinto wuif vir ons om te stop: hulle is ons twee beste Afrikaans studente, al is die agtienjarige Magnificence met sy Blechtrommel-groei niks hoër as drie voet nie. Hulle glimlag breed tussen die “Good morning!”’s deur, en sukkel om die Golf se stram deur oop te kry. “I must talk on ‘nurture or nature of the child’ for the debate; will Doctor help me? It is difficult for us to obtain the necessary books and we are going to Durban Girls’ High for the competition.” (Moses se hoogdrawende Engels val my weer op.)

“Ja, ek sal kyk wat ek kan doen. Hoe was die week in die skool?” “Very satisfactory – we had our interschools athletics, and it was very enjoyable.” Rosseau se Emile is al wat ék ken oor “nurture or nature of the child.” Twee sinne kom draai in my kop: “The teaching of nature comes slowly; man’s lessons are mostly premature”, en “You reckon on the present order of society . . . and we are on the edge of a revolution.” Sal fotostate moet maak.

En dan is ons daar, ons draai regs oor die gate in die teerpad, en oor die sinkplaatgruis ry ons deur die hekke van Ohlange Instituut, gestig deur Albert Luthuli aan die begin van die eeu. Dis soos op ‘n plaas, half afgeskei en op ´n bult, weg van die omringende woonbuurte. Van hier af lyk die menslike misrabelheid van die gebied eintlik idillies mooi: hier en daar ´n doringboom en geverfde helderblou dakkies. ´n Paar verdwaalde bokke staan en kou aan die graspolle voor die biblioteek: biblioteek net in naam – al die rakke gaap van leegte, met ‘n enkele ensiklopedie en ´n paar ou verfomfaaide weggooiboeke. Bongane Dlamini, die klein onderwyser wat as koördinator van die tutoriale optree, groet ons met ´n warm glimlag wat sy ontbrekende tand wys. “We’ve been cut off from the outside world now for two weeks: the post office people are striking. No letters, no phone calls. Au, it is bad man!” Hy’t vandag ´n UDF t-shirt aan. Agter hom teen die muur sit ´n klomp geitjies roerloos en staar, met net hul byna deursigtige mae wat klop waar die harte moet wees. Klop saam met die hitte wat al hoe erger raak. Af en toe skarrel een op staccato-ritme hoër teen die dak uit. En die swart ogies stáár: permantig, indringend.

Wat soek julle hier? Dis Afrika, dis óns terrein . . . ons hou julle dop…”

Buite kreet die hadidas hulle kras an venynige skreeue. Die temperatuur styg. Ons loop na ons klaskamers. Geitjies, hitte, Afrika. Ons betree onbekende gebied.

Altus se self-bewuste heupswaai in sy ontwerpersjeans met sy leeraktetas is meer opvallend hier, steek opsigtelik af teen die kouende bokke en armoedige-geklede studente wat voor die klasse wag. Tóg het hy ´n besondere aanklang met hulle (een minderheidsgroep teenoor ´n ander minderheid, al is hulle nie-offisieel in die meerderheid?). Die swart Afrikane se gebrek aan inspraak maak hulle op ´n vreemde manier verdragsaam tenor ánder. Altus se verfyndheid an sagte stem spreek blykbaar meer tot hulle as my eie aggresiewe aanslag. “We like people who smile with us”, het Magnificence my voorverlede week as tip meegegee ná ´n klas waarin ek met konsentrasie probeer het om die duisterhede van die Afrikaanse poësie oor te dra. Die bedekte boodskap: solank jy maar glimlag sodat ons jou goewilligheid kan sien, is die res onbelangrik.

Die studente stroom in, sit noodgedwonge twee-twee of selfs drie-drie in ´n bank, en kraak langdurig met hul plastiese Checkers en Pick’nPay boeksakke. Die stukkende vensters gaap, en daar’s ’n onaangename klank van die toilette af. Die los annplakbord teen die agterste muur hel met sy VIVA MANDELA gevaarlik oor na die klas se kant, en daar’s nêrens kryt vir die swartbord nie. Die presensielys is die eerste obstruksie. Nombuyiselo Zondi, Angelbirth Mbeje, Faith Mthembu, Hope Sithebe, Monde Cele, Rejoice Msomie, Gladness Ndandani, Mozipho Mgeyane, Pretty Ngidi, Prudence Zikubu, Sibongile Mhlongo . . .” (Wat het hulle ook anders as faith, hope and prudence?)

Meteens is daar ´n kabaal aan die straat se kant van die skool: alles kom tot stilstand, almal se oë gedraai na die vensters. Daar staan ’n Casspir en ’n polisie-vangwa. Twee busse vol singende, dansende mense word gestop: glo begrafnisgangers wat gemaan word om te sit, op to hou sing, en sommige om uit te klim. (By Pietermaritzburg sterf daagliks mense in panga’s en halssnoere…) As almal weer tot kalmte gebring is, lees Moses sy opstel oor verlede week se gedig, Gedagtes van die beseerde arbeider, voor:

Dié gedig moet nog vandeesdae geleer word. Die gedigter praat oor die dinge wat nog gebeur. Daar is nog vandag mense wat werklose is soos die beseeerde arbeider van wie die gedigter praat. Die gedigter praat oor verdeling tussen die ryke mense en die arm mense. Dit vandag vind plaas. Daar is nog mense wat van droë pap leef – soos dié beseerde werker van wie die gedigter praat. As dinge in die lewe nie goed is nie, dan kan ’n mens nie aan God glo nie. Dit is waar. As ’n mens arm is, dan word hy of sy wanhopig teenoor God.

Teenoor die res van die klas se F’s en E’s het Moses in die vorige eksamen ’n B gekry vir Afrikaans. As Cresentia háár opstel lees, sukkelend en skaars hoorbaar (sy praat met haar hand voor haar mond, glo ’n gebaar van respek vir meerderes, wat Zoele-meisies êrens in hul opvoeding aanleer), sak die mismoed oor my toe:

Ek hou hierdie gedig, want die beseerde arbeider gee sy vrou die hoop dat een dag moet hy met sy voete staan. Terwyl hy met sy voete staan hy sal die komberse koop en hy kan ’n sent gee vir sy vrou en sy kinders.

Wat máák ek hier? Hoe kan jy ooit dié studente op die vlak van ’n gedigontleding vir die Matriek-eksamen kry? Ek weet nie, ek weet werklik nie. Maar ek gaan aan: “Vandag doen ons Die hardloper van Ernst van Heerden, bladsy 66 in Skakering: page sixty six”.

Ek lees gevoelvol voor vanwaar ek op die skryfkant van die voorste bank sit: ek kan sien hulle verstaan geen snars nie, onder die lees sit en mompel hier en daar twee meisies, die seuns hang op hul hande van verveeldheid. (Maar hulle is hiér, ’n sesde dag op skool, want hulle will die mitiese geleerdheid hê, hulle wil voorúít kom in die lewe, hulle wil universiteit toe gaan…) Ek vertaal in Engels. (Ook dít weinig, hoewel almal freneties afskryf: hulle het Zoeloe as voortaal gehad tot standerd vyf, en die Engelse kennis is beroerd.) En dan vra ek Moses om to vertaal in Zoeloe. Hy kom staan voor die klas. Van wat ek kan aflei, verduidelik hy terwyl hy vertaal: skielik is almal ene aandag. Die knope knik instemmend, alle oë is op hom.

“Mmmmmm…”, sê die hele klas. (Vir die eerste keer daag daar tekens van begrip.) Ek hou hom dop, voel soos ’n idioot: ek verstaan feitlik geen word Zoeloe nie, tog kan ’n mens aflei uit sy handgebare wat oorgedra word: “Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet…”, met ’n beduiery van hitte en hart wat dramaties in die borskas slaan. Hy maak ’n golwende beweging met sy hand, terwyl hy in Zoeloe verduidelik, en die hele klas gil van plesier. Ék verskrik: “Moses, wat het jy nou gesê; hoekom lag hulle?”. “I told them that die winde het sy haregolf gelig means that only white people’s hair waves in the wind like that…”

Die tyd raak min: ek bespreek vinning die gedig. Veral die slot van die teks laat heelwat oë mymerend staar asof hulle iets sien wat ek nie sien nie:

Hy weet al het hy nou die loop gewen,
Die ander man sal eendag eerste wees.

En dan “ly” en “bedryf” ons ’n bietjie. Dis suiwer lyding, dié grammatikavorme, vir my en vir hulle. Die klok lui, met verligting stroom ons uit, búíte toe waar die son nou knaag aan die skouerknoppe, en die besies eentonig teem in die paar bome. Onder dwang van die natuur gaan ek die haglike toilette binne waar geen spoel-toilet meer spoel nie, en waar damme ongeïdentifiseerde vloeistof op die vloere staan. Die stank is so oorweldigend dat jy probeer om nie asem to haal terwyl jy ’n paar sekondes daar vertoef nie. Een toilet is in die porseleinstam, kort bo die vloer, afgebreek. Watter woede het dít reggekry?

Na nóg drie klasse (met die studente later váál van die hitte, of is dit honger?) sleep ek die biblioteek binne. Bongane bedien verversings: Mellow Yellow-koeldrank en lemon creams uit die winkel. Ons drink dorstig – en eet, ons is al van sesuur af op, het geen ontbyt gehad voor die 25 km. rit nie. Bongane is uitgehonger vir geselskap. Ek is so moeg en verlep van die hitte en gesukkel om te kommunikeer, dat ek skaars kan konsentreer op wat hy sê. Hy praat oor Phambili (die Zoeloe word vir “Voorwaarts!”), die nuwe skool wat prof. Fatima gestig het, en die probleme. Hy wys ’n gedig wat ’n student vir die opening geskryf het:

Students came from Kwamashu, Umlazi,
They all shouted
Phambili! We salute you.
In busses and trains – I listened
curiously.
They talked about Ma Fatima,

Oh! Its Prof. Meer. Not very tall.

But her deeds are taller than Carlton
Centre, or maybe Brisiton [Brixton]Tower.
Phambili! You are concrete.

You survived against two enemies –
One with a spear and the other with
a gun.
Phambili! We love you.


Terwyl hy lees, sien ek agter teen die muur ’n geskarrel van geitjies. Hulle is skielik onrustig hoër aan die opskiet teen die muur. Staccato-staccato. As hulle stop, staar hulle weer:

Wat soek julle hier? Dis Afrika. Óns terrein.

Dis laat; ons moet terug stad toe; ons is moeg.

Vannand het ek nog ’n ete-afspraak by die departementshoof se huis. Die eksterne eksaminator word onthaal. In die verskriklike hitte. By die motor wag Moses en Magnificence (”I am called Sbongile Mhlanhla Ndandani, but if that is too difficult for you, just call me Magnificence.”) Voor ons wegtrek, word daar eers in alle tale gegroet: “Sala gahle!”, “Mooi loop!”, “Have a good week!” Ons ry: om hulle kans to gee om Afrikaans te praat, vra ek in die boeretaal: “Wat gaan julle vanmiddag doen, Moses?” (Dis tog Saterdagmiddag; ek verwag om to hoor van een of ander sport of tydverdryf soos fliek.) “Ek gaan my klere was.” (Hy is altyd pynlik netjies aangetrek.) Wat kan ek verder sê? Die gesprek loop dood. Ek laai hulle af oorkant die pad van ’n sangoma se huis, waar diervelle en talle droë bossies kruie bo die deur hang. Daarvandaan stap hulle huis toe, dieper die woongebied in. Ons het nog 22 kilometer terug stad toe in die onuitstaanbare hitte. Altus steek weer vir ons sigarette op. Dis vieslik om te rook in die gloed, maar skep die illusie dat ’n mens beheer het oor die situasie.

Ek dink na oor die hele probleem van swart onderwys, en onthou die storie wat my broer op Bergville my vertel het. “Jy weet, hy sê sy vriend wat boer moes gaan pos aflewer by ’n swart laerskool op die plaas. Hy staan en wag toe buite die skuur dat die onderwyseres klaar kan praat voorhy die briewe inneem. Binne hoor hy die vrou sê: ‘This is a pointed leaf, class.’ En terwyl sy ’n gepunte blaar ophou, herhaal die klas ‘This is a pointed leaf.’ Toe hou sy ’n ronde blaar op, en sê: “And this is a disappointed leaf.” Altus lag. Ek wonder of hy besef dat ons eintlik met dieselfde sort ding besig is: Almal “disappointed leaves” die stukkies geleerdheid wat ons aandra oor Die beiteltjie en Die hardloper. Húlle soek ’n morele les daarin; óns probeer die kompleksiteite van gediganalise tuisbring by mense wat hoegenaamd nie die taal kan beheer nie.

Terug in Umgeniweg vra Altus of ek hom ’n rand kand leen, en vir ’n oomblik sal stop by ’n plek wat hy sal wys. ’n Vinnige versluierde transaksie vind plaas, sien ek oor die bokant van my koerant — ’n ‘slope’ dagga? Dis nie my besigheid nie. Ek hét hom al gewaarsku oor die gevare. Dan laai ek hom af, groet my vrou vermoeid as ek by die huis kom, en sê ek moet gaan rus. Sy kom lê langs my, ék met slegte spysvertering van die Mellow Yellow en winkelkoekies. Dis drukkend warm. Al die vensters en deure is toe om die hitte uit te hou, maar die waaier rig nie veel uit om te verkoel nie. Teen die plafon, wat lelik afskilfer sedert die sesdaagse sondvloed, sit ’n deurskynende geitjie en klop deur sy maag. Hou my stip dop. Ek ril liggies. Alles in dié stad is hard en ekstreem en oordadig opdringerig: die hadidas en Indiese mynahs krys teen die hitte, die plantgroe met sy pers, wynrooi en donker pienk teel voort tot dit alles oorwoeker, en die ménse… soveel soorte, perspektiewe en lewensstyle. Afrikane en Oosterlinge en Westerlinge. En by díe ‘Europeërs’ is dit asof Afrika hul bloed beet het: die brein funksioneer al hoe minder, en die kliere en homone neem oor. Die drifte raak al hoe prominenter, ter kompensasie van die afwesige rasionaliteit. Die hitte is in hul bloed, groei uit hul oë: soveel opgejaagde, animaal-voortgedrewenes het ek nooit tevore in een stad teëgekom nie. Alles skreeu “groei, groei, voortplanting” en ’n byna selfvernietigende drif tot paring, kopulasie, driftige voorstóél. Hier en daar is enklaves van groepies wat nog probeer om Europese, “bekaafde” gewoontes te handhaaf téén die hitte en die oordaad van die natuur en die kokende drifte in. Maar dít is ook pynlik, asof misplaas.

Half aan die slaap, voel ek Elsa teen my beweeg. Onmiskenbaar die intensie agter dié beweging van die ronde, klam heup hier teen myne. Half teësinning en meganies – soos ’n ou getroue robot – volg ek haar erotiese suggesties. St streel met haar hande oor my beswete liggam, en ek voel haar klam lyf, die ronding van die oorvol borste met die stywe tepels teen my sy. Ten spyte van die kilte in my kop, voel ek die warmte tussen my bene, wat swel and hard word, en dan verbrokkel my weerstand. Agter haar hou die geitjie ons stip dop. Hy het iets dreigends in sy swart oë (die ander man sal eendag eerste wees).

As ek na ’n beswete slaap weer wakker word, soek my oë hóm eerste. Daar’s nou skielik drie in die hoek van die geel plafon. Dis asof hulle aanteel in die oognip, en jou uit jou huis uit wens. Ek sal hulle môre te lyf moet gaan: vader weet hóé, dis ’n onbegonne taak. (Dáárom die Skotse digter: “beliefs are harder to evict than tropical lizards from a room.”) Hul teenwoordigheid raak vir my te veel. Daar’s nie plek vir ons én hulle nie.

Ons stort, trek aan (Elsa in diep pêrs), en ry na die heuwelrif bo die stad, die béter buurt, waar prof. Maarten Stander, my departementshoof, woon in sy “argitektoniese wonder” met papjabome, verligte swembad en “magistrale uitsig” oor die baai. (In die vallei aan die agterkant van die huis lê die verlate strate en oorgroeide erwe van die ou Cato Manor, waar Steve Biko in die sestigerjare oogetuie was van die bloedige gevegte tussen polisie en inwoners, voor hulle almal ontruim is. Nou trek die nouveau riche daar in.) Hoflike geluide alom, die koper blink tevrede en die geelhouttafel kreun onder drank en kos. Die besoekende professor, om wie se ontwil die “geselligheid” gereël is, sit stug en ongemaklik in die bedompigheid van die onthaalkamer. Maria Callas gil uit die hoek. Elsa begin dadelik freneties te gesels met my vroulike kollegas. Ek soek die koelte van die Kaapse wynflesse op, en word voorgestel aan dr. Mala Naidoo, ’n Indiese vrou wat in Cambridge tradisionele Zoeloe-musiek bestudeer. Op Marten (’n verbete opera-liefhebber) se versoek gaan sy vanaand vir ons ’n praatjie lewer oor haar “veldwerk” (soos sy dit paternaliserend noem) onder die inwoners van Kwazulu.

Ek: “Where did you learn Zulu?” (Sy het in Durban grootgeword.)

Sy: “At the University of London’s School of Oriental and African Studies”. (Ironie, o ironie!)

Sy vertel dat sy die opnames tydens “veldwerk” moes maak sonder dat die mense van die bandmasjien bewus was, anders sou hulle bedreig voel. Sy gaan aanstons vir ons illustreer op instrumente wat sy saamgebring het, hoe die musiek voortgebring word. Prof. Anna Schmidt, die besoekende dosent, vra belangstellend uit oor die ‘toestande’ in die tuisland. (Sy behoort tot die Orde van Cisterkaners, het die eed van selibaat afgelê, en gebruik haar vrye tyd om die geloof aan die Afrikane in en om Johannesburg te bring.) Daar is spaning in die lug: ek weet dat Mala ’n Britse burger geword het, en niks met die politiek in haar gewese vaderland te doen wil hê nie. Sy verafsku die hele affêre hier, volgens ’n berig in die Daily News van ’n paar dae gelede.

Terwyl die geselskap geleidelik op dreef kom, voel ek hoe straaljies sweet teen my blaaie en uit my armholtes afloop. Op die muur bo die Maggie Laubscher sien ek tientalle geitjies wat afsteek teen die skitterwit. Kennelik is Stander se huis só geleë dat die diertjies uit die tuin die huis binnekom, en hier besonder tuis voel. Dis afgryslik: teen die ander muur sit seker dertig van hulle. Veel groter as dié in ons nederige semi-detached, óf by die skool in Inanda. Hulle loop orals in die riffies van die geverfde bakstene. Honderde oë is op die stywe geselskap in knellende klere gefikseer. (Ek gryns innerlik: hoe groter en deftiger die huis, hoe groter die kolonie geitjies en hul bedreiging.) Stander kon nooit vrede maak daarmee dat hy in Afrika woon nie: sy uitgesproke wens is om in die suide van Frankryk te kan aftree, wég van al dié ‘gemors’ – soos hy dit noem – hier.

Altus, ons junior lector, staan en flirteer met Rafael, die Italiaanse dosent. Hy lyk vanaand soos ’n Vogue-model in ’n vloeinde wit kostuum, wat hy self ontwerp het, met ’n breë gordel van blou en rooi Zoeloe-krale. Hy trek selfbewus aan sy Cartier-sigaret. Die geelhout glim onder té skerp sy-beligting. Prof. du Toit, emeritus-professor, kan nie verstaan waarom sy laaste Kajuitraadvergadering so stormagtig was nie. Hy will dit tog nou oopstel vir geselkteerde “anderskleuriges”. Altus en ander jongeres het dié aand luiddrugtig aangekondig dat ossewa-nasionalisme en “oopstelling” vandag irrelevant is. (Goddank, daar verander Maarten die musiek: Callas se skelheid word vervang met Gregoriaanse sang. Geleidelik raak die hitte effens draagliker. Die geteem en gepiep van die tropiese insekte buite die bome vaag weg voor die rustigheid van dié klanke. Dis asof ek die koelte van die steenmuure en die donker middeleeuse kloostergange vol gewyde mos om my kan voel.) Maar dan is daar meteens konsternasie: die hele kamer is gevul met vlieënde miere. (Natuurlik, dis weer tyd vir vir die huweliksnag van die miere: paringstyd, wanneer hulle deur helder lig aangetrek word.) Maarten begin vervaard rondhardloop, en prof. Schmidt, wat in Johannesburg in haar afgesonderde klooster nie dié ekstremiteite van die natuur ken nie, lyk benoud. Altus los ’n skerp angsgilletjie. Almal praat opgewonde en deurmekaar.

Skielik is dit stikdonker in die kamer. “Doen julle dit altyd as julle besoekers kry?”, vra Schmidt in ’n poging om die situasie te verlig. “Dis ál wat help teen dié aanslag”, sê Maarten. “Ons moet nou ’n uur of wat so sit, dan sal die ergste oor wees: ek is vreeslik jammer vir die ongerief, maar dis die enigste raad.” Buite kor-kor die groot paddas in die onderkant van die tuin. Ek verbeel my ek sien Altus en Rafael stilletjies uitbeweeg op die oop stoep. Hy soek moeilikheid: Maarten en Rafael is al jare lank vriende. Ek strompel na die tafel en vul my glas: dis al wat help teen dié onuitstaanbare situasie. Dis erg genoeg in die helder lig, maar vader weet, om nou nog in die donker te sit en hoflike gesprekkies voer, dis nie uit te stane nie. Per ongeluk steek ek my hand in die bak met lou, dik kersiesop. Ek gril, en dink aan bloed, die groot pot varkbloed waarin die vermoorde in Eco se The Name of the Rose, kop eerste, gedompel is. (Die bloed in Pietermaritzburg, waar mense lewendig opgekap word…)

Ou Blaasbalk du Toit is nog steeds aan die karring op su politieke snaar: nou’t jong Van den Heevertjie, ons nuutste aanwins op taalkunde-front, en ’n vuurvreter soos min, met hom in ’n redenasie betrokke geraak, en hy is iemand wat onverantwoordelik dinge kan sê as hy sy progressiewe gedagtes oor “Afrikaans in die toekoms” ná ’n paar glase wyn begin formuleer. Skrik ook nie terug vir ouderdom nie. Ek sal moet gaan keer, anders is dit oormôre weer aan die gons in die departement. Eenkant gessels die vrouens rustig. My oë raak die donkerte gewoond, en ek kan die vae buitelyne van die geselskap uitmaak: prof. Schmidt en Mala Naidoo praat oor Cambridge en musiek, Schmidt speel glo fluit, en Naidoo stel vir tyd en wyle oënskynlik belang. Sy moet dit ook maar ’n vreemde lot bymekaar vind. Hoop sy verstaan nie meer te veel Afrikaans nie: dié politieke gesprek klink na afstuur op ’n verleentheid.

“U weet, professor, ons blankes is eintlik indringers in Afrika. Ons kom van buite. En ons sal doodenvoudig moet aanvaar dat Afrikaans altemit gaan uitsterf vorentoe. Dis so eenvoudig soos dit.”, aldus voortvarende Van den Heevertjie. Ek kan hoor die wyn begin nou trek. Nou-nou skree hy hard “Amándla!”, soos hy altyd doen as hy opgewonde raak.

“Watwou! Uitsterf? Nóú’s jy kortsigtig, mannetjie. En boonop onnodig swartgallig. Dis net ’n kwessie van de-eksklusivering van Afrikaaners. Ons moet die deure oopstel, sodat anderskleuriges ook welkom voel om by ons aan te sluit.” (Sy tong struikel oor die groot word ‘de-eksklusivering’ … hy probeer twee keer voor dit reg uitkom.) Van den Heever laat nie op hom wag nie: “Ek dink nie dis meer ’n geval van óns wat hulle kan verwelkom nie, Prof. Dis nou ons wat sal moet begin aansluiting soek by húlle, voor dit te laat is. Dit is tog so, as mens die saak nugter bekyk, dat ons soos vreemde avisse hier aangevlieg gekom het, en nou het die mense vandag nie eers gewone burgerregte nie. Mens sou van twee spesies kon praat: díe inheemse en die uitheemse.” Hulle is nou onkeerbaar. Van den Heever is opgewonde besig om sy akademiese spiere te toets, en dit is natuurlik plesierig om met so ’n strydvaardige ou ros kragte te meet.

Rondom ons begin die ander geprekke te verstil soos die intensiteit en volume van dié woorwisseling toeneem. “Mens wil nou ook darem nie die deure só opstel dat daar later net oopte rondom jou is, en niks van die múre van die gebou oor is nie. Daar is darem perke aan alles, of hoe?”, kom prof. du Toit met ’n amusantheid te voorksyn. Maar ná algemene luidrugtige gelag, kan jy hoor Van den Heevertjie gaan nie nou los nie. “Prof, dis nou ’n kwessie van oorlewing: wat my betref kan ons Afrikaans deur medium Engels ook doseer as dit daarop aankom. Watse benepenheid is dit tog dat ons mense so vasklou aan die behoud van Afrikaans? Dis uit en uit die ou nasionalistiese gedagte. Ons moet hom hiér doodslaan.” En nou’t hy sy voet daarin gesit. Ek kan hoor hoe stik du Toit in sy sjerrie. Gelukkig stol alles as die ligte skielik aangaan: Maarten het besluit die ergste van die plaag is oor. (Einde van die huweliksnag van die vlieënde miere.)

Ons knip vervaard met die oë, moet weer aanpas by die weerkaatsende wit mure met die oor-skerp beligting. Almal begin rondbeweeg: toilet toe, hande was, wyn inskink. Altus en Rafael kom skugter binne. Die vrouens stap om van die grillige Oosterse kersiesop in te skep. Ek kyk op. ’n Afskuwelike gesig tref my: orals teen die mure sit geitjies uitgedy tot twee maal hul mormale grootte, met yslik oorvulde mae, en by die bekke steek vier, vyf agterkante van vlieënde miere uit: net die vlerkpunte en bruin agterpote is sigbaar. Die reptielietjies se bekke kan nie meer toe nie, staan oopgesper. Hulle sit nou stil. Net die harte klop nog sigbaar deur die dun maagvliese, en die oé peul uit, gefokus op óns. Altwee die mure is oortrék van die vreters met hul halfverteerde prooi. Afsigtelik. Elsa vra of sy vir my kan kos inskep. Ek ril: “Nee dankie, ek is nie honger nie.”

Niemand weet tevore hoe so ’n nag gaan eindig nie.

Advertisements

Entry filed under: Afrikaans, Afrikanerskap, Apartheid, Boere, Essay, Human Rights, Identity, Justice, Kortverhaal, Language, Nationalism, Race and Culture, Short Story, South Africa, Ubuntu.

Police storm Anglican parish in Zimbabwe Arguing With God at Coffs Harbour

1 Comment Add your own

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Haai!

  • 235,582

Dorpsbewoners

Argiewe

Onlangse Lesers

View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile

Kalendar

May 2008
S M T W T F S
« Apr   Jun »
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

del.icio.us


%d bloggers like this: