Die Van Pletsen Saga

July 5, 2008 at 9:20 am 24 comments

Click for English

Klik vir genealogie

Voorwoord

Deur haar seun, Roon Lewald

Toeval? Bestemming? Nee, net weer ‘n bewys dat die Internet alles weet. Nadat my moeder in 1974 haar handgeskrewe familiegeskiedenis voltooi en ‘n hulpvaardige neef dit mooi netjies vir haar oorgetik het, moes fotokopiëe daarvan soos die bybelse wonder van die visse en brode vermenigvuldig het. Want dit het gretige lesers orals in die Van Pletsen-wêreld gevind, siende dat dit blykbaar die enigste bekende kroniek van my oorlede ma se wydverbreide familie is.

Roon Lewald

Roon Lewald

Nogtans kon ek amper nie my oë glo toe ek in 2008, amper 30 jare na haar dood, toevallig in die Internet op hierdie einste Amerikaanse blog geland en heel bo ‘n sorgvuldige afkskrif van Ma se “Saga” – nogal in Afrikaans met ‘n Engelse vertaling! – ontdek het. Ek het die redaksie in New York dadelik vanaf my huidige woonplek in Bonn, Duitsland gebel en vasgestel dat redakteur Blane van Pletzen-Rands ‘n vérlangse neef en nes ek ‘n emigrant is. As sulks het hy gedurende ‘n besoek by familie in SA ‘n kopie van die manuskrip in die hande gekry. En dis hoekom my ma se Saga nou ‘n ereplek gevind het in ‘n blog wat gedeeltelik geskep is as ‘n virtuele kuierplek vir diegene wat belangstel in die Van Pletsens (oftewel Van Pletzens, soos sommige takke van die familie dit spel).  

Maar afgesien van my eie familiebande met haar het Helen Lewald se “Van Pletsen Saga’” m.i. ‘n wyer betekenis as sommerso ‘n opstelling van oorlede voorsate. Dis vir my ‘n evokatiewe dokument van ‘n wêreld wat al feitlik uitgestorwe was toe sy dit in 1974 neergeskrywe het – ‘n onpolitiese herinnering aan ‘n gemoedelike plattelandse lewe in die dae voor teerpaie en elektriese lig. Die skryfster is nét na die Suid-Afrikaanse Oorlog op ‘n eensame plaas naby Barkly-Oos gebore, nog voordat die eerste Ford Model-T tjor ‘n plaaslike boer se perde gevaarlik kon laat skrik as dit skielik bo-op een van die wyk se hoë bergpasse voor sy perdekar verskyn. As ‘n slim, langbeen plaasmeisie het sy met groot ore geluister na al die stories wat die Van Pletsen ooms en tantes so graag en luimig vertel het. Later, as ‘n onderwyseres wat in die buiteland musiek gestudeer en ‘n Duitser getrou het (s. Nightingale of Natal), was sy instaat om daardie stories met ‘n tikkie ironiese afstand weer te gee, sonder om die familietradisie van lekker-vertel prys te gee. Ironie was inderdaad noodwendig want, het sy beweer, “die van Pletsens vertel tog so graag en so lekker, maar as hulle feite beginne min word, dan lieg hulle sommer ‘n strokie by!”.

Die “Saga” is weliswaar geen gewigtige geskiedkundige studie en wil dit ook nie wees nie. Die Afrikaner se histories belangrikste politieke temas – maatskaplike en politieke opbou na die verlore Anglo-Boere Oorlog; kultuurstryd met Engels-sprekende landgenote; oorheersing van (en later samelewing met) die swart meerheid – is bloot toevallige randverskyninge. Van Pletsense rebelle in die Ooskaap tydens die oorlog van 1899-1903 word egter trots gepresenteer, ‘n Vrystaatse kommandant-generaal wat in ‘n slag teen Basoetoe-krygers sneuwel word as held gevier en ‘n ou tante onthou met die onvervalsde rassisme van haar generasie nog die tyd toe haar wyk “van die kaffers gesuiwer” is. Maar die onvergeetlikste voorsaat is ou stamvader Carl Johannes von Plessen (later Van Pletsen) – ‘n awontuurlike jong Duitser wat sy Oos-Pruisiese tuiste verlaat om onder Napoleon as huursoldaat te veg, in 1822 as blinde passassier op ‘n skip in Tafelbaai aankom en later vader word van nege sterk stamhouers, wie se name tot vandag toe op Van Plets/zense doopsertifikate pryk.

Roon Lewald  Bonn, Julie 2011

Die Van Pletsen Saga

Deur Helen Lewald, geb. Van Pletsen

Hier volg nou die “Van Pletsen” saga wat ek belowe het om neer to skrywe voordat ek tjêns word en niks meer kan onthou nie. Ek kan nie waarborg dat al die féite, datums, ens., juis is nie, want wat ek hier skryf is gebaseer op hoorsê – op wat pa en ma, oupa en ouma en ou tantes en ooms vertel het!Volgens my oom Jan Sauer van Pletsen (wat joernalistiese neigings gehad het en ʼn paar boeke die lig laat sien het) het ene Carl Johannes von Plessen, gebore 1795 in Oos Pruise, daar moelikheid gehad het met die owerhede en toe die land verlaat en hom gevestig in Brabant, België.

(Oupa se suster, Tant Mart Vorster, het graag gespog met die feit dat ons Van Pletsens oorspronklik Von Plessens was en dus tot die aristokrasie behoort het en dan het my pa se broer, die stuitlike oom Kootjie, haar altyd gedemp met die woorde: “Ag, wat, Ta’ Mart, die ou swernoter was seker ʼn ou perdedief. Dis die dat hy daar out Oos Pruise moes padgee het!”)In Brabant het hy huursoldaat geword en as sulks onder Napoleon gaan veg.

Na die slag van Waterloo het hy en ʼn Havenga (seker ʼn voorstaat van Klasie Havenga) as verstekelinge op ʼn skip hier aangekom in 1820.Dit blyk dat hy in Graaf Reinet te lande gekom het waar hy getroud is met ʼn Anna Sauer (gebore 1805) wie se vader, Johan Nicholas Sauer, uit Keulen in Duitsland gekom het en onderwyser in Graaf Reinet geword het.

Sy vrou was Susanna Maryna Mulder.Hierdie Johan Nicholas Sauer was die voorvader van oudminister Paul Sauer.

Die Carl Johannes von Plessen was 25 jaar oud toe hy in Suid-Afrika aangekom het in 1820 en het 93 jaar oud geword. Toe my oupa, Carl Johannes van Pletsen, in 1857 gebore is, was bogemelde Carl ʼn man van 62 en toe hy in 1888 oorlede is was Carl Johannes van Pletsen al ʼn man van 32. Hy het sy oupa dus goed geken, maar het blykbaar nie veel belang gestel in die ou man se herkoms. Jammer!Hy het wel geweet en herhaaldelik aan ons kinders vertel het, was die feit dat sy oupa van Brabant in België gekom het, en onder Napoleon geveg het en dat hy hier “met ʼn nooie Souer getroud is, wat altyd gesê het – “wat se ge-von — dis mos van” en toe het die naam Van Pletzen geword.”

Tot my ewige skanda en verdriet het ek destyds nie genoeg belanggestel nie om vir oupa te vra of die ou man nog Duits kon praat en wanneer die “Plessen” dan “Pletzen” geword het – en nou is dit te laat vir trane.Myns insiens is die verandering van die “ss” na tz” baie verstaanbaar. Die dubbele “s” word in Duits “ß” geskryf wat vir die ongeletterde boere van destyds seker heeltemaal vreemd was en “tz” was die aan-die-hand-liggende oplossing. Mettertyd het die uitspraak van die naam verander na Pletzen. Selfs dit was vir sommige nog nie foneties genoeg nie sodat dit Pletsen geword het.

Ons Afrikaners het maar nooit veel respek gehad vir die spelling of die uitspraak van ʼn vreemde naam nie.Dink maar aan di De Raans (Du Rand), Lospers (Laubscher), Lawwerskaiings (Labuschagne), Du Toois (Du Toit) en Senekals (Seneschal).

Hier volg ʼn paar staaltjies wat oupa tot vervelens toe aan ons kinders vertel het. Ek siteer hom: “Ja, en hy an ʼn ander klein twak met die naam Havenga kruip toe mos weg op ʼn skip sonder om to betaal. Hulle het in ʼn groot vaatjie weggekruip maar moes toe maar later uitkom want hulle was byna dood van die honger en die luise het hulle omtrent opgevreet.”Dan het oupa geskud soos hy lag oor die predicament waarin die twee hulle gevind het.

Verder: “ Hy sê die Napoleon was vir niks bang nie. Eendag het hy voor sy tent gesit en rapporte skryf toe ʼn bom naby hom bars sodat die grond en die klippe oor die tafel reent en hy wat Napoleon is vlie daar op en ’gee net sukke groot knope!” (Hier het oupa altyd met die vuis gewys hoe groot die knope was).En dan: “Die Napoleon was glo so dapper soos ʼn leeu. So ʼn kort, dikkerige vent met ʼn sort van boepensie wee’ jy kind, maar hy’t maar ʼn klein hartjie gehad. As ʼn geveg verby was, het hy glo altyd rondgeloop onder die gesneuweldes met die regterhand voor in sy bors gesteek en die linkerhand agter sy rug en dan het hy gehuil soos ʼn kind.”

(ʼn Bietjie dik aangeplak vind ek, maar met die baie oorvertel het die Van Pletsens natuurlik elkeen ietsie bygeborduur!).“En kind, daar was glo vir jou ʼn man wat verstaan het om soldate te “dril”.

Snags moet hulle ‘lepel lê’ waar hulle slaap in die veld en middernag het ʼn offisier gekom wat geskree het “DRAAI!” en dan het die hele klomp omgedraai en anderkant toe lepel gelê”.(Oupa het altyd hierdie ongelooflike en onwaarskynlike storie ge-eindig met die woorde: “Tja kind, as ons sukke Generaals gehad het sou die Boere-oorlog ook anders afgeloop het!”)Foeitog! Hy was seker nog maar klein toe sy oupa hierdie storie vertel het en hy het natuurlik het die stertkant van die verhaal beetgekry, maar ons kinders het dit maar altyd vir soetkoek opgeëet. Toe ek later in die Geskidenislesse met Napoleon en sy verowerings kennis gemaak het moes ek soms lag wanneer die prentjie van die “lepel lê” soldate voor my geestesoog verskyn.

Met die terugtop uit Moskou sou dit nogal nie ʼn slegte plan gewees het nie!

Om terug te keer na Carl Johannes von Plessen.

Hy en Anna Susanna het toe in Graaf Reinet gewoon waar haar vader onder-balju, asook onderwyser was en ek siteer weer vir oupa: “Sy was in die kooi met ʼn baba, toe raak die strooidak van die huis aan die brand. Bu die deur kon hulle haar nie uitkry nie want die het ook al gebrand. Toe het hulle haar met bed en kind en al by die venster uitgekry.”

Die huis en alles wat daarin was het afgebrand en arme Carl Johannes het glo daar gestaan in hy hempsmoue, seker ooknat van die sweet soos hy gespook het om vir Anna Sussana by die venster uit te kry.

Toe het een van dir bure darem vir hom ʼn baadjie gegee. Ek hoor nog hoe my ma die storie in ʼn geskokte fluistertoon eindig met die woorde: “En kind, hy’t sowaar eers al die knope afgesny!”

(Ook verstaanbaar. Dit was om en by 1832 toe knope in Suid-Afrika weeldartikelswas.)

Hulle het toe na Burghersdorp verhuis waar albei onderwys gegee het. Anna Susanna se senukwellende ondervinding in die brandende huis in Graaf Reinet het blykbaar nie haar entoesiasme vir voorplanting van die geslag gedemp nie, want sy het met hernude moed en ywer volhard en daarin geslaag om negestoere stamhouers in die wêreld to bring. Delfs in daardie tyd van kindervrugbaarheid moes dit opsien verwerk het want Andries Stockenstroom (destyds Luitenant Goeverneur in die Oostelike Provinsie) het haar twee plase (9000 morge) present gegee, ver elke seun dus 1000 morg.Die plase, ‘Luipaardsvlei’ and ‘Jachtpoort’ was geleë in die distrik Burghersdorp.

Die Name van Anna Susanna se Nege Seuns

1. Carl Jacobys — gebore 10 Januarie 1832. Het hom in Jamestown gevestig.

2. Johannes Francois — gebore 17 Augustus 1835. My oupa-grootjie. Het hom in Rouville gevestig.

3. Diederik Johannes — het hom in Burghersdorp gevestig.

4. Jan Jacobus — het hom in Burghersdorp gevestig.

5. Nicolaas Johannes — het hom in Burghersdorp gevestig.

6. Petrus Nicolaas — het hom in Dordrecht gevestig.7. Everhardus Georg Frederik — het hom in Rouville gevestig.8. Stephanus Albertus — het hom in Rouville gevestig.

9. Jacobus Francois — het hom in Rouville gevestig.

Al wat Van Pletsen of van Pletzen is, is afstammelinge van die nege seuns. As ʼn mens ʼn Van Pletsen raakloop is hy altyd van Jamestown, Barkly Oos, Burghersdorp of Dordrecht se wêreld of in die Vrystaat van Rouville, Zastron of Wepener. Familiename wat altyd êrens opduik is Carl Johannes, Johannes Francois, Stephanus, Nicolaas, Diederik. Kortom, die name van Anna Susanna se nege stamhouers! Our Carl Johannes en sy vrou het later na Rouville getrek. Hy is daar oorlede en lê begrawe op ʼn plaas met die naam van Droogfontein, terwyl Anna Susanna op Knoffelspruit begrawe is.

Die oudste seun van die Carl Johannes (ons het altyd van hom gepraat as “die ou emigrant”) was:

1. Carl Jacobus — Gebore 10 Januarie 1832. Gertroud met Martha Christina Smith van die plaas “Wingerd” in Aliwal Noord.

Daar was tien kinders:

1. Susanna Lucya — Gebore 1857
2. Carl Jacobus — Gebore 1859
3. Petrus Nicolaas — Gebore 1861
4. Jan Jacobus — Gebore 1863
5. Anna Susanna — Gebore 1865
6. Martha Christina — [ ? ]
7. Erasmus Jacobus — [ ? ]
8. Alida Hendrina Margaretha — [ ? ]
9. Diederik Johannes — Gebore 1874
10. Stephanus Albertus — Gebore 1876

Die tweede seun van “die ou emigrant” was:

Johannes Francois — Gebore 17 Augustus 1835. Getroud met Susanna Lucya Smith, ook van die plaas “Wingerd”, Aliwal Noord en ʼn suster van Carl Jacobus se vrou. Hy was my oupa-grootjie. ʼn Portret van hierdie ou voorsaat het in my oupa se plaashuis op “Cloverley” in Barkly Oos gehang en daar het ook een gehang in die gang van sy broer, Stephanus, se plaashuis op “Workshop” in Wepener. Van die bebaarde, kwaaiglurende ou persoon het ons altyd gepraat as die “ou gang Van Pletsen.”My suster, Dulcie Kroon, van Memel, O.V.S., besit ook ʼn portret van hom wat nogal interessant is, want dit is van ʼn jonger en vriendeliker man.My oorlede broer, Carl, se seun Johannes Francois (“Nacht Wacht”, Kokstad) besit die begrafnislys van die ou voorvader . Baie interessant. ʼn Pragtige pen en ink tekening van die oppervlakte van die kis, met die name van die draers en dan, in wonderlike “copper-plate” handskrif, die name van die roudraers almal –ongelooflik verbaster.In elka geslag was twee broers wat met twee susters getrou het. Daar was destyds nie so ʼn keuse soos vandag nie!Name van Johannes Francois en Susanna Lucya Smith se nege kinders:

  1. Carl Johannes, my oupa, Gebore 22 Februarie 1857 — Oorlede 15 Oktober 1938. Getroud met Frederika Petronella Magdalene Henning, van die plaas “Lusthof”, Rouville.
  2. Petrus Nicolaas, getroud met Alida Henning, van die plaas “Modderpoort”,
    Jamestown. (Dit was Ras van Pletsen se pa. Hy is van die weer doodgeslaan en Ras het toe op “Workshop” grootgeword by “Oom Faan en Tant Nonnie.”)
  3. Jan Jacobus, getroud met Elizabeth Brümmer – (het selfmoord gepleeg.)
  4. Johannes Francois, getroud met [ ? ] Henning, van die plaas “Lusthof”, Rouville. – ʼn suster van my ouma, Frederika.
  5. Anna Susanna, getroud met Phillupus Roux van Zastron.
  6. Martha Magdelena Maria, getroud met Oelof Abraham Servaas Vorster van Barkly Oos. (Dit was die grootouers van die kunstenares, Anna Vorster).
  7. Susana Lucya, getroud met Thomas Theron van Cedarville. (Tweelingsuster van Martha. Ook iets wat baie onder die Van Pletsens voorkom).
  8. Stephanus Jacobus, getroudmet Jacoba Katarina Maria Swart (Nonnie) van “Workshop”, Wepener. – (Dina, Kokie, Stefaans en Erica se grootouers).
  9. Alida Hendrina Margaretha, getroud met Jacobus Smith van Wepener.

Die “gang Van Pletsen” se tweede vrou was Frederika Petronella Magadelena Kotze.Haar vier kinders:

  1. Susanna Jacoba, getroud met Gert Venter.
  2. Jan Nicolaas, getroud met Johanna van Biljon.
  3. Frederika Petronella Magdalena, getroud met Gert van Biljon.
  4. Everhardus Georg, getroud met Alida Hendrina Margaretha van Pletsen, gebore 29 September 1900. (Kleindogter van die “emigrant” se oudste seun, Carl Jacobus. Haar pa was Jan Jacobus, gebore 1863).

Die voorafgenoemde Alida Hendrina van Pletsen (Tant Alie) het altyd belanggestel in die stamboom van die Van Pletsens en toe ek haar besoek het, het sy my baie kon vertel wat sy van haar pa gehoor het.

Volgens haar was die ou emigrant ene Carl Jocobus von Plettscher, gebore 1795 in “Wurtburg naby Berlin”. Dit klink vir my nie baie aangeneemlik nie. Die naam Jacobus is nie Duits nie en daar is ook nie so ʼn plek naby Berlyn of ērens anders in Duitsland nie. Wartburg, ja, en Würzburg wat nie naby Berlyn is nie.Ek persoonlik, het meer vertroue in oom Jan Sauer se gegewens. Hy het per slot van sake weke lank in die Kaapstadse argiewe rondgesuffel terwyl sy haar feite van hoorsê het en ʼn mens weet hoe sulke stories met die oorvertel verdraai, bygelas en afgekap
kan word. Ek dink hier aan oupa se vertelling van Napoleon se “lepellēende” soldate!

Ek siteer Tant Alie:“Carl Jacobus von Plettscher het as vrywilliger [ ? ] na Frankryk gegaan om onder Napoleon te veg”. (Ek vind dit moelik om te aanvaar dat ʼn Duitse edelman as vrywilliger afgesit het na Frankryk om onder die gehate Napoleon te veg. Oom Jan Sauer se storie dat hy vanaf Brabant, waar hy miskien al jarelank gewoon het, as huursoldaat gaan veg het, vind ek aanneemliker).

Verder:“Hy en sy ma se broer, ene Bender, was albei lyfwagte van Napoleon, en hier het ek ʼn Sjampanjefles waaruit hy en Napoleon saam gedrink het by Waterloo waar hulle saam op ʼn groot klip gesit het.”

(Ek vra jou nou met trane in my oë! Kan jy jou voorstel dat Napoleon by Waterloo tyd of lus gehad het om met sy lyfwag op ʼn klip te sit en sjampanje drink en dit uit dieselfde fles en sonder glase? Ek nie.) Verder vertel sy:

“Na Waterloo het hy matroos geword en hy en Bender het op die manier in Suid-Afrika aangekom saam met die familie Sauer wat op dieselfde skip was. Hy is toe later met ʼn Sauer meisie getroud.”Hier weer verkies ek om oupa se storie to glo, naamlik dat di “ou emigrant” en jong Havenga as verstekelinge hier aangekom het want hy het sy oupa goed geken en die ou man het glo die storie baie keer aan hom vertel. Toe Tant Alie in 1900 gebore is was die “ou emigrant” al twaalf jaar dood.

Sy het my vertel dat Johannes Francois van Pletsen (die “gang” Van Pletsen se tweede seun van die “emigrant) ʼn baie ryk man was wat 20,000 morge grond besit het sodat hy vir elke seun ʼn groot plaas kon gee. Johannes Francois (No. 4) (Oom Hans) het Kalfontein in Rouxville gekry.

Jan Nicolaas (Oom Jan) het Knoffelspruit in Rouxville gekry. Dit word vertel dat gemelde Jan die plaas weggedobbel het. Ander plase wat hy besit het was Hoekfontein, Tierhoek, Wonderwater, Klaarwater en Vinkelfontein.Tant Allie vertel my toe dat “Barkly Oos se wêreld destyds net skoongemaak is van die kaffers” en ou Johannes Francois (“gang Van Pletsen) het toe vir sy oudste seun Carl Johannes (my oupa) daar ʼn stuk grond van 4,300 morge gekoop. Ek is op die plaas Cloverley gebore in 1904 toe my pa ʼn man van 24 was. Ek weet dat hy sy vroeë kinderjare daar belewe het maar nie of hy in 1880 daar gebore is. Die huis wat vandag nog daar staan het my oupa laat bou.

“Cloverley” is een van die talle Engelse plassname in Barkly Oos en was die keuse van ʼn Engelse landmeter met ʼn kennis van die bewondering vir die Engelse letterkunde.Die boere het hulle bloedweinig aan die poësie van name gesteur. Cloverley was in die omgangstaal gewoonlik Klavervlei en die name uit Tennyson se “Morte d’Arthur” het ook maar sleg daarvan afgekom.

Ek dink hier aan “Kammalot” (Camelot) en “Laaines” (Lyonesse).Name van Carl Johannes – (Oudste seun van Johannes Francois, die “gang” Van Pletsen), en Frederika Petronella Magdalene Henning se kinders:

  1. Frederika Petronella Magdalena (Frikkie) getroud met Nicolaas van Zyl (Cedarville Oos Griekwaland).
  2. Johannes Francois (Frans) (Gebore 11 Augustue 1880) – Getroud met Dina Johanna Crouse (Gebore 21 November 1877) (Graaff Reinet).
  3. Carl Johannes getroud met Maria Magdalena Crouse (Suster van Dina Johanna) (Graaff Reinet).
  4. Anna Susanna (Sannie) getroud met Jan van Zyl (Broer van Nicolaas) (Cedarville).
  5. Jocobus (Koot)getroud met Molly Botha (Barkly Oos).
  6. Petrus (Piet) getroud met Lottie Pietersen (Barkly Oos).
  7. Jan Sauer getroud met Rachel Toerin (Riversdal).
  8. Nicolaas (Klaas) getroud met Marie Jacobs; Chrisie Hertzog; Ann Stander.
  9. Stephanus (Faan) getroud met Ada Gordon (Kaapstad).

Name van Stephanus Jacobus (seun van “gang” Van Pletsen) en Jacoba Katarina Maria Swart (Nonnie) se kinders:

  1. Johannes Francois (Cois) getroud met Frederika Petronella van Pletsen (Frikkie) (dogter van Johannes Francois (Frans) – Gebore 1880 en agterkleindogter van Johannes Francois – Gebore 1835).
  2. Stephanus getroud met Lily Loteryman.

Name van Johannes Francois (Frans) – Gebore 1880 en Dina Johanna Crouse se kinders:

  1. * Helena Susare (Helen) getroud met Otto Albrecht Lewald (Berlyn, Duitsland). * Gebore 8 Junie 1904.
  2. * Frederika Petronella Magdalene (Frikkie) getroud met Johannes Francois (Cois) van Pletsen (Kleinseun van Johannes Francois “gang” van Pletsen). * Gebore 18 Oktober 1905.
  3. Carl Johannes getroud met Joan Kumm, Kokstad.
  4. Dina Johanna (Dulcie) getroud met Gerrit Kroon (
    Memel, O.V.S.)
  5. Reinet Seneschal (René) getroud met Malcolm Fisher Vincent (
    Durban).

Name van Carl Johannes en Maria Magdelena Crouse se kinders:

  1. Carl Johannes.
  2. Heloise Helena.
  3. Jurgen Crouse getroud met Jeanette Theresia (Tikkie) Smit (Harrismith, O.V.S.)
  4. Frederika (Erika) getroud met Wilhelm Dreyer (Kaapstad).
  5. Yvonne getroud met Marthinus Johannes van der Westhuizen (
    Pretoria).

Name van Helena Susara and Albrecht Lewald se kinders:

  1. Deanne Seneschal getroud met Horst Raszat (
    Heidelberg, Duitsland).
  2. Theo Roon getroud met Lynn Joanne Kock (Klerksdorp).

Name van Frederika Petronella Magdalena en Johannes Francois van Pletsen se kinders:

  1. Dina Johanna.
  2. Stephanus getroud met Gretchen Strauss (Wepener).
  3. Jacoba (Kokie) getroud met Herman Thörmahlen (
    Strand).
  4. Erika Ronel getroud met Piet Heymans.

Name van Carl Johannes en Joan Kumm se kinders:

  1. Nina getroud met Johan du Rand.
  2. Johannes Francois getroud met Myrna Rock.

Name van Dina Johanna (Dulcie) en Gerrit Kroon se kinders:

  1. Gerrit van Pletsen Kroon getroud met Jeanette de Villiers.
  2. Johannes Francois gtroud met Frederika van Schalkwyk (Vlooitjie).
  3. Cornelis (Corrie).

Name van Reinet Seneschalen Malcolm Vincent se kinders:

  1. Dina-Ann.
  2. Linda Jean getroud met Rodney Penpreaph.
  3. Helen Bell.

Name van Jurgen Crouse van Pletsen en Jeanette Theresia Smit se kinders:

  1. Jeanette Theresia.
  2. Carl Johannes (Johan).
  3. Engela Rietta.
  4. Heloise Erika Yvonne.
  5. Jurgen Smit.

Name van Frederika (Erika) van Pletsen en Wilhelm Dreyer se kind:

  1. Erika.

Name van Yvonne van Pletsen en Martin van der Westhuizen se kinders:

  1. Marleen.
  2. Mattheus Jacobus.
  3. Liesel.

Lekker lees nageslag! Ek hoop julle kopp gaan nie aan die draai van al die Johannes Francois’s en Carl Johanesse nie.

Pretoria, Tvl. Helen Lewald. (Gebore Van Pletsen)

Januarie 1974

EpiloogVergun my om Helen names die “Clan” te bedank vir die “Van Pletsen Saga”. Dit is ʼn interressante vertelling en ʼn kosbare samevatting wat, indien dit nie op hierdie tydstip geboekstaaf sou gewees het nie slegs met groot inspanning en opoffering later op skrif sou kon word.

Dankie niggie, vir die mooi geskenk aan ons.Jurgen van Pletsen
Florida, Tvl.Junie 1974.

Advertisements

Entry filed under: Afrikaans, Genealogy, Reunions, South Africa, van Pletzen Genealogy, von plessen.

The Nicene Creed: how it became the way it is in the 1979 Prayer Book Afro-pessimism: Robert Mugabe

24 Comments Add your own

  • 1. van Pletzen  |  January 29, 2007 at 4:22 am

    Hi

    Petrus Nicolaas van Pletzen hier. Ek het die navorsing paar jare gelede gekry en het so 2 of 3 van die seuns deurgetrek na vandag. Was jare in die politiek en nou in eiendomsontwikkeling.

    Reply
    • 2. Eugenie van Pletzen Wagner  |  August 22, 2010 at 4:47 am

      Hi Petrus
      Stam jy af van die 1ste Petrus Nicholaas wat hom in Dordrecht gaan vestig het. Bg inligtin vir die spesifieke familie stop by hom. Ek sou graag meer inligting wil he want my pa Jan Hendrik van Pletzen kom van Dordrecht af. Hoor graag van jou.

      Reply
  • 3. Blane van Pletzen  |  February 4, 2007 at 2:06 pm

    Hello, Petrus:

    Thank you for responding to the “van Pletsen Saga.” I do hope you will consider sharing your genealogical research which, if you consent, we can share on this website. I can be contacted at bvpr at mac dot com

    Kind Regards,

    Blane

    Reply
  • 4. myn  |  February 10, 2007 at 3:50 am

    Blane,

    Was surprised to find a link to my blog on your site! Just wanted to check in and say “Hi!”.

    Thanks for insightful article…

    Reply
  • 5. Blane van Pletzen-Rands  |  February 10, 2007 at 2:24 pm

    Hello Mynhard van Pletsen:

    Thank you for your response. “Die van Pletsen Saga” has several more chapters which I will soon post. It will be interesting to see which one of the nine brothers you trace your roots through. Very proud of what you are doing.

    Kind Regards,

    Blane

    Reply
  • 6. Camelia  |  March 26, 2007 at 5:40 am

    Hi Blaine, camelia here, my grand father frans van Pletsen, married to . Jan nicholaas was my dad. Thank you for this, it is wonderfull to read. Stellenbosch.

    Reply
  • […] Africa next month, Blane and I came across an old history of his family written in Afrikaans titled “Die Van Pletsen Saga” by Helen Lewald (nee van Pletsen). For several years he had been meaning to translate it, and […]

    Reply
  • 8. DJ van Pletzen  |  October 9, 2007 at 5:57 pm

    Hiers nog ‘n van Pletzen.

    Soos ek dit verstaan stam my groot ouers van Bloemfontein af en het toe versplinter deur die land.

    Ek is gebore in Vanderbijlpark, my pa in Rustenburg en oupa in Bloem (?).

    Dankie vir die bieke great geskiednis

    Reply
  • 9. Rudie Van Pletzen  |  November 19, 2007 at 8:04 pm

    Hi Daar Julle

    nog een Van Pletzen

    Dj Het jy dalk vir Hifi Corp gewerk?

    Rudie

    Reply
  • 10. Johan van Pletzen  |  December 6, 2007 at 6:52 pm

    Hallo aan al die van Pletzens, Net so ‘n bietjie geskiedenis wat ek van weet. Van die van Pletzen kant van die stamboom weet ek nie veel nie maar My Pa Oorlede Christie James van Pletzen gebore op 18 Junie 1926 in Bloemfontein en was getroud met Anna Jacoba Maria Venter ook van Bloemfontein.
    Uit die huwelik is daar drie kinders nl. Christo Rudolf van Pletzen, Melinda Elisabeth van Pletzen en Johan van Pletzen gebore.(Nigel, Gauteng)
    Christo is met Lenette Botha van Mosselbaai getroud met drie seuns uit die huwelik nl. Rudie, Christo en Armand.
    Rudie die Oudste is met Yolandi Bothma getroed en daar is twee seuns sover gebore nl. Reewan en Johan van Pletzen.
    Christo Beyers die tweede oudste is getroud met Jackie en het onlangs hulle eerst seun nl. Beyers van Pletzen
    Johan is met Irene van der Merwe getroud met twee kinders uit die huwelik nl. Jaun van Pletzen en Karlien van Pletzen,altwee nog ongetroud.
    Dis sover al wat ek kan byvoeg

    Groete aan al die van Pletzens

    Johan van Pletzen(Nigel) 0842056558

    Reply
    • 11. surene  |  June 24, 2011 at 1:50 am

      Beste Johan
      Ek is besig met ons familiebybel se stamboom. My ma Myra van Pletzen is jou niggie. Haar pa, my oupa (Andries Jacobus genoem Kallie) en jou pa was broers. Sy het as dogtertjie baie by jou ma-hulle in Dan Pienaar gekuier maar ken sy slegs jou broer Christo. Dis maar vaag maar herinnering wil dat jou pa ‘n slaghuis gehad het en jy by ‘n orkes gespeel het?
      Ek is dringend opsoek na soveel moontlik inligting oor van Pletzens en sal bly wees as jy kan help. Wat was jou oupa/ouma en grootoupa/ouma se name?
      Beste Groete
      Surene Fourie
      safourie@cybersmart.co.za
      floris2@absamail.co.za

      Reply
  • 12. Roon Lewald  |  February 1, 2008 at 4:42 pm

    A word to the author: Hi Blane, you must be a relative because that’s my´mother’s Van Pletsen Saga I HAVE JUST RE-READ (ORIGINAL COPY IN MY POSSESSION). Sommer baie aardig om skielik my ma se “tall tales” op die Web te sien. Nouja, die Van Pletsens was altyd goeie vertellers, het Ma altyd gesê – as hulle geen feite meer byderhand het, lieg hulle sommer stroke aanmekaar… Laat maar van jou hoor (mail, skryf of bel) en vertel my meer van jou, vriend, want lyk my jy’s n soort van Pletsen “griot” of familiale historikus en ek het nog heelwat materiaal hierso.
    Voorspoed
    Roon Lewald
    Frascati Strasse 4
    53177 Bonn
    Germany.
    Tel.+49.228-313076

    Reply
  • 13. Dina-Ann Boessenkool (Vincent)  |  February 2, 2008 at 3:30 am

    I was utterly delighted to read this tonight. Cousin Roon pointed me to your site. I also have a carefully preserved paper copy from Aunt Helen. Aunt Helen was a wonderful storyteller. She sailed to Europe before WW2 to take speech lessons in Belgium and ended up travelling to Berlin to take singing lessons where she met her future husband. At some stage they left Berlin, lived in England for a while and then came to South Africa where Uncle Albrecht established himself as a renowned singing teacher.
    My mother, Reinet Seneschal Vincent, still lives in Durban.
    I married Johan Boessenkool and am now living in the Netherlands. My sister Linda, and Rod Pentreath are divorced. They had three children. My sister Helen married Angelo Montemarano and they have two children. They still live in South Africa.

    Reply
    • 14. Pippa and John  |  March 8, 2011 at 11:34 pm

      Hello Dina-Ann
      This is such a long shot, and your letter on this web page is about three years old, but it’s worth a try.
      I was wondering about Linda Pentreath the other day so typed in Rod’s name. I knew they were divorced, but lost touch with Linda many years ago when we moved to England. If this reaches you I’d be so pleased if you could forward it to Linda, or send me her email address. My husband did an MBA with Rod and my oldest son and Taryn were born during that year, just a few weeks apart. Thanks. Pippa at pippagreensmith@gmail.com

      Reply
  • 15. Blane  |  February 2, 2008 at 8:26 am

    Hello Roon:

    I was so happy to see your comment on my blog this evening and enjoyed reading your remarks. My Afrikaans is, at best, rusty, and has always been a second language for me having grown up in Rhodesia. My German, I’m afraid, is non-existent.

    It must have been a strange moment when you came across your Mother’s “tall Tales (as you say) on the world-wide-web. I must admit that, during the translation, when one considers every word carefully, I found my tongue pressing into my cheek several times as I thought “As if!” Even if she paints her picture in broad strokes, it still has been a wonderful touchstone for delving into the van Plets/z/ssen family history.

    Thank you for your invitation to write to directly. I am very curious to know what additional material and insight you might have in helping me with our genealogy.

    Thanks, again, for your welcome message. I’m looking forward to receiving more pieces to our puzzle!

    Kind Regards,

    Blane


    Blane van Pletzen-Rands a/BSG
    General Theological Seminary
    175 Ninth Avenue
    New York NY 10011-4924

    (801)355-8882

    bvpr@mac.com

    https://episcopal.wordpress.com/

    Reply
  • 16. Erika Botma  |  February 2, 2008 at 1:14 pm

    Hi All ,

    My part in this story comes from tree branch of Carl Johannes Van Plesen and Magdalena Crouse. My Mother is Frederika (Erika) van Pletsen who married Willhelm Dreyer.

    I Erika Botma (Dreyer) am married to Paul Botma and we have a little boy called Dreyer Lodewyk Botma who is 4 1/2 years old, born 15 Aug 2003

    We used to live in Pretoria(South Africa) but has since moved down to Natal where we live in a place called Hilton just before your get Pietermaritzburg. My mother Erika now lives with us in her own little granny flat. I am not sure if many of you know but Heloise Helena and Jurgen Crouse van Pletsen ( Erika’s brother and sister) passed away in July and August 2006. My mother’s sister Yvonne van der Westhuizen and her husband Martin still live in Pretoria.

    Well that’s it from me. Will keep checking this site for updates. This is so great to see where everyone comes from and how we are all spread across the world.

    Best regards

    Erika (Dreyer) Botma

    Reply
  • 17. Judy Clark  |  April 10, 2008 at 12:38 am

    Hi All!!
    I have read the “saga” as well as all the comments with great interest and nostalgia. I am so sorry that I didn’t pay more attention to the names when I was younger (but in my defence we moved from Dordrecht district to East London in 1947.
    My late mother Margaretha Maria van Pletzen 1911 – 1989 was one of a very large family. My grandfather Van Pletzen had at least 5 children whom I can remember, from his first marriage (his wife died during child birth) and when he re-married five children whom I knew quite well.
    The youngest and only living child from the second marriage, D.J. was born 18.08.1920 and is still living on the “family” farm, Kranskop, in the Jamestown district.
    My father Arnold Nepgen (1906 – 1982) and mother married during 1935 and I was the only child, Judith (Judy) born at Dordrecht in 1940, married in 1964 to Colin Norval Clark; we have two children Juan Arno and Lisa Margo (and four grand children) and still live in East London.
    I do not have the uncles and aunt’s correct or full names, but if anyone is interested, I can let you have what I do remember.
    Kindest regards
    Judy
    Unfortunately the fist wife’s children were already quite old when I was small, so I don’t remember much about them.

    Reply
  • 18. The Van Pletsen Saga « Blane  |  July 7, 2008 at 3:21 am

    […] Translated by Blane van Pletzen-Rands (Klik vir Afrikaans) […]

    Reply
  • 19. Antoinette Immelman (van Pletzen)  |  April 9, 2010 at 12:15 pm

    Nog ‘n van Pletzen. My Pa (Carel Jacobus) kom van Rouxville af en my ouma was Ouma Alie (Alida). Ek weet daar bly nog ‘n neef genaamd Carel en ‘n niggie, Annette Nel in Rouxville.

    Dis so lekker om bietjie geskiedenis te lees.

    Reply
  • 20. Heloise Conradie (nee Van Pletsen)  |  July 17, 2010 at 7:38 pm

    Hallo Roon, Jy ken my glad nie, maar ek kan nog jou ma en Oom Albrecht baie goed onthou. Tannie Helen was een van my favourite Tannies – rooi lippe, laaaaang hare, mooiste blou oë, bonkige groot silwer armbande. Fabulous. My pa was Jurgen Crouse van Pletsen. Tannie Helen was die tipe Tannie wat elke kind moet ken. Iemand wat “groots” en flambojant is ! Ons woon tans in Stellenbosch, SA en sou graag wou kontak maak. Groete Heloise

    Reply
  • 21. R Gotte  |  February 5, 2011 at 3:32 am

    Hello

    Nice site

    I recently found a familymenber on your site.
    Marlene Vorster.

    I am looking for the parents of Anna Vorster and Sakkie (Izak) Schutte (Sckutte)
    I am related to Annas sister Marlene Vorster married with Gustav Kromberg son of Johann Peter Kromberg (Reverant) and Jacoba Johanna Sandenberg.

    Greetings.
    Rob Götte.
    The Netherlands.

    Reply
    • 22. jeanpatrick41  |  August 21, 2016 at 10:11 pm

      Hi Rob
      I worked with Sakkie Schutte from 1980 to 1983. I would really appreciate to learn his whereabouts. Many thanks

      Reply
  • 23. R Gotte  |  August 22, 2016 at 4:10 pm

    Hi.

    I am very sorry but know nothing about Izak Sakkie Schutte only that he was Anna’s husband.
    I even have no birth or dead dates.
    where dit you worked with Sakkie?

    Greetings Rob Götte related to Anna and Marlene and Gustav Kromberg.

    Reply
    • 24. jeanpatrick41  |  August 22, 2016 at 8:14 pm

      Thank you very much. I worked with Izak at the National Institute for Water Research, CSIR

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Haai!

  • 235,582

Dorpsbewoners

Argiewe

Onlangse Lesers

View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile View My Profile

Kalendar

July 2008
S M T W T F S
« Jun   Dec »
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

del.icio.us


%d bloggers like this: