Durbanse somer
March 24, 2008 at 4:44 am Leave a comment
Deur Roon Lewald
Domp oerwoudhitte laat die geitjies hyg.
In die avokado-skadu grou ek tonnels in die sand.
In die sinkplaatheining langs my
is ‘n los paneel:
n geheime deursluip na ‘n oop perseel
waar die mals natuur oproerig woeker
in sy nimmer-eindigende
Suidkus-intifada teen die stad.
Daarbinne rank dit geil en donker
om die piesangs en die mangobome.
“Bly weg van daardie plek, daar’s slange daar,”
sé Aia Ellen streng.
“As ‘n mamba jou nou byt, is dit baie seer
en jy’s tsetsja-tsjetsja dood!
En dan, we-Tinizaan, we-Lollozaan?
Jou ma en ek sal baie treur.”
Met ‘n maatjie saam kan jy daar lekker
Tarzan-enne-ijpmin speel.
Tenspyte van ou Ellen is ek gladnie bang
om alleen daar in te gaan nie,
jok ek vir myself, maar dis te warm.
Ek grawe dus ‘n nuwe tonnel
vir my motortjies, en luister hoe
die vrouens by die kaja klets:
lomer murmurend op die maat van somer;
met ‘n weelderige tongklap of
die huppelpassie van ‘n lekker laggie
tussendeur.
Entry filed under: Afrikaans, Lewald, Poësie, South Africa.
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed